‘My pa het my nie verkrag nie’ – ma versin dogter se dood en sê in brief hy hét

Dit het aan die lig gekom haar ma, Zwanet, het haar dogter se dood vervals, nadat ‘n berig in Rapport verskyn het: “My pa het my nie verkrag nie.”

‘Skyndood’ van Megan Raaths skok meer as 32 000 vroue

‘Skyndood’ van Megan Raaths skok meer as 32 000 vroue

’n Nes van leuens is hier oopgekrap nadat Megan Raaths (20) in die media na vore gekom het en gesê het haar pa, Abrie, het haar nié op negejarige ouderdom verkrag nie. Dit het aan die lig gekom haar ma, Zwanet, het haar dogter se dood vervals, nadat ‘n berig in Rapport verskyn het: “My pa het my nie verkrag nie.”

Abrie (46) is in 2012 vier keer lewenslank, met nog 20 jaar, tronk toe gestuur nadat hy skuldig bevind is vir die verkragting van sy eie dogter, Megan, toe sy nege jaar oud was.

Tekening lei tot klagte

Die sage het in 2009 begin toe Megan se ma, Zwanet, op ’n tekening van twee mense wat seks het, in haar tas afgekom het. Abrie en Zwanet was besig om te skei en Megan en haar ouer broer het by haar pa gebly.

Sielkundige ondersoeke, sessies met maatskaplike werkers en ’n vraag en antwoord-bladsy het gevolg, wat Megan volgens haar aangesê is om soos ’n papegaai te leer vir wanneer daar in die hof vir haar vrae gevra word.

Megan het deur die jare aangedring haar pa is onskuldig. Selfs voor sy vonnisoplegging in 2012 het sy ’n verklaring afgelê waarin sy sê hy het haar nie verkrag nie, maar dit het niks gehelp nie.

Sy en haar boetie is uit haar pa se sorg verwyder en sy het hom nooit weer gesien nie.

Lees die agtergrond van dié storie hier.

Zwanet onthul Megan is dood

Maar meer bizar is die leuens van Megan se ma Zwanet, wie aan vriendinne gesê het Megan, Megan se “ongebore baba”, Abrie, asook Megan se verloofde, Reniers, het almal in lockdown verlede jaar selfdood gepleeg.

Pixie Pink, ’n aktivis vir vroue- en kinderregte, sê syself is deur dié leuens ingetrek. Pink het ’n paar jaar terug by die saak betrokke geraak nadat Megan begin praat het oor die onskuld van haar pa.

Zwanet vervals Megan se selfdoodbrief


Zwanet het volgens Pink meer as 32 000 vroue oortuig haar dogter, dié se verloofde en haar eksman is dood. Sy het selfs op Whatsapp-groepe foto’s, video’s en stemboodskappe gestuur waar sy praat oor haar “oorlede dogter” se as, dat haar eksman die begrafnis bygewoon het en hoe sy wens sy kon haar dogter se lyk gaan “warm lê” in die “yskas”.

Volgens Pink het Zwanet tot haar eie dogter se selfdoodbrief vervals.
Megan het tot vandag geen idee gehad haar ma het voorgegee sy is dood nie. “Ek is geskok. Ek het nie woorde nie,” het sy aan FiND iT se verslaggewer gesê.

Geskok dat Megan lewe

Pink sê ’n ondersteuningsgroep het begin om Zwanet te ondersteun en hulle het selfs geld ingesamel om haar by te staan. “Ek was bitter geskok toe ek vanoggend in die Rapport lees Megan lewe. Ek was nog meer geskok toe ek uitvind die ander twee mense lewe ook. Die vrou het soveel mense bedrieg en ek is oortuig daar van die pa is nie skuldig daaraan dat hy sy dogter verkrag het nie.”

Vermoed Megan is gebreinspoel


Voor Megan se “dood” het Pink Megan begin bystaan om haar pa se onskuld te bewys. “Ek vermoed Megan was destyds gebreinspoel en was oortuig dit (die verkragting) het wel gebeur. Ons het alles in ons vermoë gedoen om haar te ondersteun. Ons het aangebied om regshulp vir Abrie te kry, maar Zwanet het bly verskonings soek, soos dat daar nie geld is nie.”

Anemie Terblanche, ’n vriendin van Zwanet, sê sy het in die afgelope jaar Zwanet deur die dood van haar dogter gedra. “Ek kon nie glo wat ek lees nie. My kind het haar (Zwanet) se jongste dogter deur die dood van haar sussie ondersteun. Net om uit te vind die sussie is nooit oorlede nie.” (FiND iT kon nie vasstel of die sussie van haar ma se leuens geweet het nie.)

Briesend kwaad oor leuens

Terblance sê sy ly nog aan skok. “Zwanet het my vanoggend geblok. Ek was onder die indruk Megan se verloofde (Reniers) het selfmoord gepleeg omdat hy nie sonder haar wou lewe nie. Ek is briesend dat iemand oor so iets kon jok! Ek het haar vir ’n jaar lank getroos oor haar kind en haar kleinkind se dood.”

LEES DIE WHATSAPP-BOODSKAPPE HIER.


In ’n skermgreep van die gesprekke tussen Zwanet en haar “Queens” – die groep vroue wat haar ondersteun het – het sy die boodskap van die na-doodse ondersoek gedeel, waarin sy sê Megan is dood aan ’n oordosis Zolnox, Urbanol, Lenox en “half verteerde medikasie wat nog ontbind”. Sy het verder gegaan en gesê “met die oopsny van die vroulike kadawer” is gevind daar was ’n fetus van ongeveer 9 weke oud.

Foto van houtkissie met as


Zwanet het ook ’n foto van die houtkissie, met Megan se as in, op die groep geplaas. Die foto’s het gepaard gegaan met stemboodskappe waarin sy snik oor haar oorlede kind. Dié groep het Zwanet in die tyd geldelik bygestaan.
’n Roudiens is glo ook in Junie tydens die inperking vir Megan gehou.

Begrafnisbriewe vir al drie mense is deur Zwanet op die Whatsapp-groep aangestuur. Sy het ook gesê Megan se pa was by die begrafnis, want hy was op pad om oorgeskuif te word na ’n ander tronk.


Zwanet het almal gevra om nooit op sosiale media daaroor te praat nie en omdat die groep vroue haar heelhartig ondersteun het, het hulle haar wens eerbiedig. Sy het gesê sy was bang van haar familielede vind uit.

Stuur vals selfmoordbrief aan


In die selfdoodbrief wat Megan volgens Zwanet agtergelaat het, skryf sy hoe wonderlik Zwanet as ’n ma was. “Toe ek klein was het ek nooit die nagevolge van wit leuens geken nie, maar ek het daarmee grootgeword en dit het my siel versondig.” In dié brief sê “Megan” vir haar ma as haar laaste woorde voor sy “dood” is dat haar pa wel skuldig is.

LEES DIE SELFDOODBRIEF HIER.


Pink sê geen van die datums wat Zwanet deurgee het vir die selfdoodpogings het sin gemaak nie. Sy het ook nooit op sosiale media enigiets gesê van haar dogter wat dood is nie en het voortgegaan om haar in plasing te “tag” en haar geluk met haar verjaarsdag gewens. “Ek het ’n tydjie terug agtergekom goed is nie heeltemal lekker nie. Ek het steeds geglo die mense is dood, maar ek het Zwanet later geblok. Ek het nie meer geglo wat sy sê nie. Sy het ook gesê Reniers (Megan se verloofde) se ouers is in ’n plaasmoord dood.”

Zwanet antwoord nie

FiND iT het vir Zwanet probeer kontak maar sy antwoord nie oproepe of reageer op boodskappe nie.

Pink sê volgens die J88 is daar geen bewyse van verkragting nie en die prent wat glo in Megan se tas gekry is, lyk nie vir haar soos die tekening van ’n kind nie.

Sy sê die vonnis is baie swaar vir ‘n beweerde misdaad wat nooit deur ‘n J88 bewys kon word nie.

Abrie was uit op borg en is intussen weer getroud, maar is in hegtenis geneem toe sy appel afgekeer is.

Pink sê sy is oortuig daarvan dat Megan nie geweet het van haar ma se leuens nie. “Jy kan op haar sosiale media sien sy het net met haar lewe aangegaan.

Pink verduidelik Megan mag nie met haar pa kontak gehad het nie en kon hom nie sien nie. “Ons wie Zwanet ondersteun het, is bitter ontsteld.”

LEES DIE WHATSAPP-BOODSKAPPE HIER.

LEES DIE SELFDOODBRIEF HIER.

KYK DIE VIDEO WAT GEMAAK IS NA HAAR “DOOD” HIER.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: