April 19, 2021

Soektog na Klarissa Joubert (19) in Oranjerivier uitgebrei

Foto: Klarissa Joubert (19), wie Donderdag deur die Oranjerivier se stroom meegesleur is. Die polisie van Kimberley se soek- en reddingspan is ook op die toneel.

ORANIA. – ‘n Grootskaalse soektog is hier aan die gang na die 19-jarige Klarissa Joubert wie in ‘n fratsongeluk deur die Oranjerivier se stroom meegesleur is.

Joost Strydom, voorsitter van die Orania Beweging, sê drie helikopters is beskikbaar gestel om die roete en oewers te fynkam, 100 mense het gisteraand opgedaag om te help soek en mense werk nou in skofte.

Verder help die Orania Veiligheidsdienste, veiligheidspanne, die polisie van Kimberley se soektog- en reddingspan, vrywilligers, vlieëniers van ‘n mikroligtevliegtuie en hommetuie, stapspanne, bootspanne, asook boere in die omgewing saam om haar te kry.

Klarissa, ‘n sielkundestudent, het Donderdagmiddag saam met vriende op binnebande op die rivier gedryf, toe sy afgeval het. Sy is deur die rivier se stroom meegesleur.

Haar vriende het verbete probeer om by haar uit te kom, maar sy het te ver gedryf. Hulle het hulp ontbied en sedertdien gaan die soektog voort.

Die soektog moes gisteraand toe dit donker word, tydelik gestaak word, maar het vanoggend met die eerste lig voortgegaan. Boere in die omgewing het ook deurnag pompstasies beman met ligte om te kyk of hulle haar nie sien nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: