Man slaan vrou se voete onder haar uit vir huweliksherdenking

KIMBERLEY. – Adam Barnard (28) het die bekende band, G’nT, gevra om gisteraand by The Big Hole ‘n liedjie aan sy vrou, Tanya, (27) vir hulle agste huweliksherdenking, op te dra.

“Ek was vir drie jaar verlief op haar, maar sy wou niks weet nie. Ek date toe haar vriendin. Sy het baie vinnig jaloers geraak,” vertel Adam terwyl hy skamerig lag.

Twee kinders

Adam het in gr. 8 op Tanya verlief geraak. Die twee het in gr. 11 begin uitgaan. Adam vertel hy en sy vrou het in 2011 verloof geraak. Hulle het op 12 Desember 2012 getrou. Hulle is tans die ouers van twee pragtige kinders, ’n dogtertjie (6) en ’n seuntjie (1).

“Vandag is ‘n spesiale dag. Ek wil vir haar dankie sê vir die ma en vrou wat sy altyd vir my en ons kinders is. Geld kan nie wys hoeveel sy vir my beteken nie. Help ook nie mens sê net heeltyd hoe lief jy ‘n persoon het nie. Dis die goed wat mens vir hulle doen, wat tel,” sê Adam aan FiND iT.

Blomme laat aflewer

Tanya sê Adam het vanoggend al blomme laat aflewer. Sy vertel sy het die voorhek se klokkie hoor lui en na buite gegaan. “Toe ek die blomme sien, het ek dadelik in trane uitgebars. Ek was so verras.”

Die bekende band, G’nT, het Saterdagaand by The Big Hole opgetree. Adam het hulle gevra om die nuwe liedjie, Liefde in Kwarantyn, aan sy vrou op te drae.

Liefde in Kwarantyn

“Ons gee graag terug aan die gemeenskap deur deel te wees van sulke verrassings. Ons doen ook vertonings waar geld vir droogtehulp ingesamel word,” sê een van die sangers van G’nT, Thys Beukes.

Beukes vertel Liefde in Kwarantyn is tydens die inperking geskryf. Hy sê hy het die idee vir die liedjie gehad en het Len Muller en Juan Boucher gevra om die liedjie te skryf. Die musiekvideo van die lied is ‘n klomp video’s van aanhangers wat wys wat hulle in kwarantyn doen.

Ons eerste vertoning

“Ons nuwe album, Nie vanand nie, is van vandag af op digitale platforms beskikbaar. Mense sal van 22 Desember die CD in die winkels kan koop.”

G’nT het hulle eerste vertoning in 2015 in Kimberley by The Big Hole gehou. Die band bestaan uit Thys Beukes en Gino Prinsloo. Beukes sê hy is dankbaar vir Oranje Toyota Kimberley en Van Zyl Vleis wat hulle borg.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *