April 19, 2021

Uitgelekte vraestel: Dringende stappe nodig om integriteit van die NSS te beskerm

Foto: Unsplash

“Die VF Plus het met ontsteltenis van die tweede uitgelekte matriekvraestel kennis geneem. Die feit dat hierdie vraestel in agt van die nege provinsies uitgelek het, dui op die wye verspreiding van die probleem. Dit gooi ook ‘n lang skadu oor die integriteit van die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS).” So sê Wynand Boshoff, VF Plus-leier en hoofwoordvoerder van basiese onderwys.

“Persepsies rakende die NSS gaan reeds die afgelope jare agteruit, hoofsaaklik weens lae slaagvereistes. Dit is egter teengewerk wanneer werkgewers en burgers oor die algemeen besef het dat die verskillende graderings van die sertifikaat, presies aandui op watter vlak die kwalifikasie voltooi is.

“Aangesien dit ‘n eksterne eksamen is wat betroubaar deur die departement van basiese onderwys bestuur is, is algemene vertroue in die NSS tot dusver ondersteun.

“Gevalle van lekkasies van vraestelle ondermyn die gevestigde vertroue. Die twee onafhanklike eksamenowerhede, die IEB en SACAI, sal waarskynlik ‘n toename in belangstelling in hul dienste verwag.

“Die VF Plus se onderwysbeleid is dat skole self die reg moet hê om te kies watter eksamenowerheid hulle wil gebruik. Indien dit nie departement van basiese onderwys is nie, behoort fondse wat op elke kandidaat bestee sou word, aan die eksamenowerheid van keuse oorbetaal te word,” sluit Boshoff af.

Hierdie beleid van die VF Plus kan die oplossing wees vir skole wat die integriteit van die Nasionale Senior Sertifikaat, waarvoor hulle skoliere voorberei, wil beskerm.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: