November 23, 2020

‘Los SAUK-omroepers uit en vervolg en ontslaan SAUK-plunderaars’

Solidariteit het vandag gevra dat omroepers en ander onskuldige werknemers van die SAUK uitgelos word en dat die plunderaars en korruptes vervolg en ontslaan moet word. Solidariteit het namens sy lede tot die omstrede afleggingsproses by die SAUK toegetree.

Dit is volgens Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof by Solidariteit.

“Met meer as R5 miljard se onreëlmatige uitgawes wat steeds op kondonasie wag, of onderhewig is aan verdere ondersoek, is dit onverskillig en genadeloos om sommer personeel af te lê, terwyl die korruptes skotvry daarvan afkom,” voer dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, aan.

Solidariteit vra ook dat die Openbare Beskermer die chaotiese toestand by die SAUK sal ondersoek. Volgens Solidariteit is daar roekeloos met belastinggeld omgegaan. Die probleem moet by sy oorsprong ondersoek word en die skuldiges moet aangespreek of vervolg word.

“Belastingbetalers moet opstaan om die vermorsing van belastinggeld te stop,” sê Hermann. “Solidariteit gaan nie net namens sy lede by die SAUK optree nie, maar ook ten behoewe van belastingsbetalers. Hierdie kultuur van plundering deur die staat en sy amptenare kan en sal nie langer geduld word nie.”

Die nasionale uitsaaier is in ʼn chaotiese finansiële toestand. Volgens die SAUK se nuutste finansiële state is daar weer ʼn verlies van R511 miljoen gemaak. “Dit is nie die gevolg van goeie werknemers nie, maar die gevolg van vrot bestuur wat die uitsaaier deur roekelose besluite in ʼn krisis gedompel het. As vrot en roekelose bestuur die probleem is, kan die antwoord nie wees om van jou beste personeel ontslae te raak nie. Afleggings kan nie ʼn opsie wees voordat die vrot bestuur nie uitgesny is nie. Dit is veral waar wanneer bestuur nie eers ʼn derde van die personeel uitmaak nie, maar bykans die helfte van die totale vergoeding opslurp,” sluit Hermann af.

*mediaverklaring

Volg FiND iT hier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *