Nuwe besigheid om ander entrepreneurs te help

Foto: Caria van der Merwe

“Ek design nie net klere nie. Ek design drome!”

Helé Wansbury (21), wat drie jaar gelede besluit het om haar eie klerereeks te begin, sê sy was oorweldig deur vrae oor hoe sy haar reeks aan die gang gekry het, waar sy begin het en haar raad aan ander wat dieselfde wil doen.

“Dis toe dat ek besluit het om ’n besigheid te begin deur al die ander brands te help,” sê sy. “Ek het nog nooit so baie oproepe ontvang soos na my eerste post op Stitchbury se page nie. Mense van regoor Suid-Afrika laat maak nou hulle klere by Stitchbury!”

Stitchbury, Wansbury se nuwe besigheid, help enigiemand met alles wat die stigting van ’n nuwe klerereeks of boetiek behels en het Maandag amptelik sy deure oopgemaak.

Oor haar eerste besigheid, Fitbury, sê Wansbury sy beplan ’n nuwe reeks, ingevoerde, meer gespesialiseerde lap, meer detail en baie meer kleur. “Dis al wat ek gaan sê,” lag sy.

Wansbury sê dat al wou sy as kind ’n celebrity soos ’n aktrise of ’n sangeres word, is dit nou haar kos om as entrepreneur ander te help. “Om met nuwe, innoverende idees vorendag te kom, gee my ’n ander tipe energie. Nuwe mense en nuwe planne laat my hart sommer vinniger klop! Ek wil so graag sien hoe ek ander kan help om onnodige duur lesse te voorkom.”

Wansbury sê sy het op haar pad al ’n paar foute gemaak wat sy wens sy eerder vermy het. “Ek het mense altyd te vinnig vertrou, ek het my kennis gedeel sonder om daarvoor vergoed te word en ek het ander te veel gratis gehelp. My hart is te klein en ek sê heeltemal te vinnig ja!”

Tyd is die een ding wat Wansbury voel sy nodig het om van haar besigheid ’n reuse sukses te maak. “Tyd, geduld en nuwe idees. Ek is ook glad nie ’n voorstander daarvan om ander te copy nie. Ek vra altyd vir almal: Wat maak jou produk of diens ánders? Stitchbury is anders!”

*Advertensie

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: