April 21, 2021

Ramptoestand belemmer enige hoop op ekonomiese groei of werkskepping

Solidariteit huldig die standpunt dat daar geen hoop is om die ekonomie reg te ruk of werk te skep totdat die ramptoestand nie in sy geheel opgehef is nie. Dit volg nadat die jongste vrystelling van die kwartaallikse arbeidsmarkopname (QLFS) deur Statistieke Suid-Afrika (StatsSA) aangedui het dat Suid-Afrika tans die hoogste vlak van werkloosheid sedert StatsSA die QLFS begin gebruik het, ervaar.

Geen langtermynbeleggings

Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI), verduidelik: “Wesenlike gedeeltes van die ekonomie is steeds toe en die dele wat oop is, gaan nooit aanstellings of langtermynbeleggings maak nie, want hulle kan in ʼn oogwink weer toegemaak word. Die ramptoestand, ongeag die vlak, bring té veel onsekerheid en verwoes ons ekonomie en werk in Suid-Afrika.”

Solidariteit voer aan dat die onlangse verslappings ʼn uiters beperkte impak op die ekonomie sal hê aangesien die moontlikheid van ʼn harde inperking steeds by ondernemings en werkgewers spook.

Onmoontlik om besluite te neem

“Dit is vir baie ondernemings bykans onmoontlik om onder die huidige omstandighede besluite oor groei of toekomstige strategie te neem. Ondanks die verslappings kan ons hoegenaamd nie die uitkomste van ʼn stelsel wat by uitstek ongeregverdig is, verwelkom nie. Rolspelers in die ekonomie het geen idee gehad wat tydens die jongste aankondiging deur die president bekend gemaak sou word nie. Ons kon vlakke opskuif, verslappings sien of kon enigeen van tallose ander moontlikhede in die gesig staar. Dit kan eenvoudig nie so voortgaan nie,” sê Mulder.

Solidariteit argumenteer egter dat hoewel die opheffing van die ramptoestand wel die grootste korttermynoorwinning verteenwoordig, daar steeds wesenlike strukturele probleme in die Suid-Afrikaanse ekonomie is wat opgelos moet word as ons die werkkrisis wil aanpak.

“Uit hierdie syfers is dit duidelik dat die ANC se beleid die grootste ramp is wat die Suid-Afrikaanse ekonomie getref het. Pres. Ramaphosa se ekonomiese herstelplan en minister Mboweni se begroting is nie bloot net onvoldoende nie; dit is gewoon teenproduktief.  Die regering het die perde wat ons ekonomiese koets sleep, doodgemaak en is nou verbaas dat die koets nie meer beweeg nie. Hierdie planne poog nou om bloot net ʼn groter koets aan te skaf in die hoop dat hy dan sal beweeg,” het Mulder afgesluit.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: