February 25, 2021

Jongste plaasmoord – ‘gemeenskappe sal moet herbesin’

Die Goudveld in die Vrystaat is ‘n duidelike brandpunt met die jongste plaasmoord op Mark Regal, wat die vyfde plaasmoord in ‘n baie kort tydsbestek in dié gebied is. Die Vrystaat beleef die afgelope maande ‘n baie ernstige toename in plaasaanvalle, met slagoffers wat hul lewe op ‘n brutale wyse verloor het.

Dit is volgens Jan van Niekerk, VF Plus-provinsiale leier van die Vrystaat.

Ergste vorm van marteling

Van Niekerk sê die wyse waarop boere, plaaswerkers en hul families blootgestel word aan die ergste vorm van marteling, is onmenslik en mag nooit die norm word nie.

“Peter en Eddie Hills, Andries Loots, Teboho Machakela en nou Mark Regal, het nie verdien om te sterf terwyl hulle die land van kos voorsien nie. Mark, wat beskryf word as ‘n vriend, ‘n pa, eggenoot en ‘gentleman’, is die jongste slagoffer van die regering se onvermoë om sy landsburgers, minderheidsgroepe en verál boere te beskerm.

Drastiese afname in plaasaanvalle

“Die antwoord is voor die hand liggend: Die oomblik wat die politieke wil gaan ontstaan om landelike gebiede te beveilig en behoorlike strafmaatreëls in plek te stel, sal daar ‘n drastiese afname in plaasaanvalle en -moorde wees. Die president se stilswye oor plaasmoord, maar vinnige reaksie op die gebeure in Brackenfell, stuur ‘n duidelike boodskap aan minderhede dat hulle geminag word.

“Die VF Plus doen opnuut ‘n ernstige beroep op gemeenskappe, maar veral boeregemeenskappe, om hulself te organiseer en weerbaar te maak. Die tyd vir hoop dat die regering tot minderhede se redding gaan kom, is verby. Gemeenskappe is nou keer op keer verkeerd bewys deur die regering se onvermoë.

Geen boer kan daarsonder

“Elke boer moet betrokke raak by sy gemeenskap se veiligheidsplanne. Gemeenskappe wat nie beskik oor veiligheidsplanne nie, moet dringend besin oor die belangrikheid van hul eie veiligheid.

“Baie boerelewens is al gered met reedsbestaande stelsels en opleiding. Radio-paniekstelsels, kommunikasiegroepe, kameras in en om huise, oorsig- en nommerplaatkameras in distrikte, honde binne huise, gemeenskapreaksiespanne en goeie kwaliteit heinings is ononderhandelbaar. Geen boer kan daarsonder nie.

Moordenaars in hegtenis geneem

“Boere moet hulself verdedig met álle hulpbronne tot hul beskikking, aangesien die Suid-Afrikaanse strafmaatreëls en howe nie meer as afskrikmiddel dien vir vreeslose moordenaars nie. Alhoewel dit die regering se taak is om sy burgers te beskerm, slaag die regering nie en daarom bestee boere en gemeenskappe miljoene rand om self om te sien na hul veiligheid. 

“Die VF Plus was reeds in gesprek met die plaaslike LUR vir polisie, Sam Mashinini, in verband met die moord op Regal en sal alle moontlike druk uitoefen om toe te sien dat die moordenaars in hegtenis geneem en vervolg word.

Eis spoedige en besliste optrede

“Die VF Plus eis spoedige en besliste optrede en geen borgtog wanneer die moordenaars gevang word nie. Mag God sy vrou, kinders en familie vertroos in hierdie bittere hartseer tyd.”

*mediaverklaring

Volg FiND iT hier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: