Move One Million-optog vandag deur Kimberley

Deel hierdie storie / Share this story

Daar word beplan om as deel van die Move One Million-veldtog Saterdagoggend om 10:00 vanaf die duiweklub in Heuwelsig in Kimberley te vertrek in ’n vreedsame optog deur die dorp. Daarna sal ’n memorandum aan Patrick Mabilo, burgemeester van Kimberley, oorhandig word.

“Die gemeenskap se ongelukkigheid oor dinge soos die toestand van die paaie, probleme met algemene dienslewering, straatligte, riool en die vervalle infrastruktuur sal in die memorandum blootgelê word,” sê een van die lede van die beweging. “Ons doen ’n beroep op die lede van die gemeenskap om aan hierdie optog deel te neem. Ons, as gemeenskap, moet nou opruk teen die probleme wat ons in die stad ervaar. Enigiemand is welkom om deel te neem.”

Johan Legransie, sameroeper van die optog, sal die oorhandiging van die memorandum behartig.