October 29, 2020

Cele en Lamola se uitsprake oor Senekal is dubbele standaarde

Die minister van polisie, Bheki Cele, se uitsprake dat hy “geskok en gewalg” is met die optrede van die boere by die hof op Senekal en die uitsprake van Ronald Lamola, minister van justisie, dat sulke optrede “anargistiese geweld” is wat nie geduld kan word nie, is niks anders nie as dubbele standaarde.

Dit is volgens Dr Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

Groenewald sê tydens die EFF se plundertogte van die Clicks-winkels is sulke sterk uitsprake nie van hierdie ministers gehoor oor die EFF se optrede nie. Dit is dus duidelik dat hulle verskillende standaarde vir die boere en vir die EFF het.

‘n Gewelddadige protesoptog

“Die VF Plus sê dat geweld nie die oplossing vir probleme in die land is nie. Dit is ook verkeerd om die byeenkoms by die hof op Senekal te wil voorstel as ‘n gewelddadige protesoptog.

“Dit was nie die geval nie en die geweld wat daar wel was, was ‘n geïsoleerde voorval deur boere wat getart is. Hul optrede moet daarom teen dié agtergrond beoordeel word. Geweld is nogtans nie die oplossing in sulke omstandighede nie.

Gebruik van skokgranate

“Videomateriaal wys duidelik dat die polisie se optrede, veral met die gebruik van skokgranate, onnodig was en neerkom op provokasie.

“Indien daar oorhoofs gekyk word na die byeenkoms, is dit duidelik dat die skare van alle kleure erns gehad het oor die veiligheid van boere en daar is gebid vir die veiligheid van boere.

Veediefstalsindikate

“Dit is daarom ‘n wanvoorstelling om die totale byeenkoms te probeer voorstel as gewelddadig.

“Die minister van polisie moet eerder seker maak dat hy sy werk doen. Daar is reeds in Januarie vanjaar volledige bewyse aan die polisie oorhandig oor ernstige misdaad in dié gebied soos die optrede van veediefstalsindikate.

Brendin Horner (21)

“Die polisie sou hierdie inligting aan die Valke gegee het, maar dit het klaarblyklik nie gebeur nie, aangesien daar tot nou toe geen optrede was nie. Die boere se siening is dat die moord op Brendin Horner (21)   moontlik voorkom sou gewees het indien die polisie en die Valke wel opgetree het.

“Daar word nou ook beweer dat die twee persone wat in hegtenis geneem is weens die moord, deel is van ‘n sindikaat en daar is sterk bewerings dat ander lede van die sindikaat lede van die plaaslike polisie is.

Bheki Cele

“Dit sluit aan by die feit dat daar geen optrede was na die inligting wat vroeër vanjaar aan die polisie gegee is nie.

“As leier van die VF Plus dring ek daarop aan dat Bheki Cele hierdie bewerings onmiddellik moet laat ondersoek en dadelik mense in hegtenis neem indien daar enige waarheid in steek.

“Die rede waarom emosies oor plaasmoord en -aanvalle begin hoog loop, kan direk toegeskryf word aan pres. Cyril Ramaphosa se ontkenning in New York in 2018 dat boere in Suid-Afrika vermoor word.

Saam die probleme oplos

“Voeg hierby die voortdurende demonisering van boere en beskuldigings dat hulle grond gesteel het, die voortdurende aanslae op boere en hul gesinne se lewe asook die wreedheid van plaasmoorde, die onlangse uitspraak van Cele wat hy nou skielik ontken, dat boere nie moet kla indien hulle seerkry nie, en alles kulmineer tot omstandighede wat boere emosioneel tot op breekpunt dryf.

“Die VF Plus doen ‘n beroep op boere om sterk te staan teen hierdie aanslag. Ek wil as leier van die VF Plus aan die boere sê ons sal saam die probleme oplos. Nie met geweld nie, maar met rede, billikheid en regverdigheid.

Dreigement van Julius Malema

“Deel daarvan is om druk op die regering te plaas om die volle verantwoordelikheid te aanvaar vir die landelike veiligheidsituasie en om daadwerklike stappe te neem om dit op te los en nie om dit deur optrede en uitsprake te vererger nie.

“Die VF Plus neem ook kennis van die dreigement van Julius Malema, EFF-leier, om saam met sy “soldate” op te ruk na die volgende hofsitting op Senekal onder die dekmantel daarvan om “eiendom te beskerm”.

“Na die EFF se optrede by Clicks is dit duidelik bloot uitlokking in die ergste graad en is dit duidelik dat die EFF konfrontasie soek wat nie bekostig kan word nie.”

*mediaverklaring

Volg Find-it hier.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *