Premier Saul moet leefstyl-oudits lood

Te midde van grootskaalse korrupsie wat regoor die land oopgevlek word, het die Demokratiese Alliansie (DA) in die Noord-Kaap die premier, dr Zamani Saul, uitgedaag om in die voetspore van die Wes-Kaapse premier te volg, en leefstyl-oudits vir al sy kabinetslede uit te voer.

 Dit is volgens Andrew Louw, LPW, DA Noord-Kaapse provinsiale leier

Louw sê terwyl dr. Saul aan die begin van sy politieke termyn verlede jaar hom daartoe verbind het om homself, sy kabinet, senior regeringsamptenare, sowel as regeringspersoneel wat in die verskaffingskettingbestuur werksaam is, lewenstyl-oudits op te lê, het ons nog nie gesien dat dit gebeur het nie.

“Dit staan in skrille kontras met Premier Alan Winde, wie ook verlede jaar belowe het dat sy kabinet aan die begin van die termyn en weer aan die einde van die termyn ‘n lewenstyloudit sou ondergaan. Winde kon verlede week die uitslae van die eerste oudit bekendmaak. In hierdie verband kon Winde aankondig dat alle lede van sy kabinet, insluitend hul eggenote, ‘n lewenstyl leef wat in ooreenstemming is met hul inkomste en dat daar geen botsing van belange was nie.

“In ‘n tyd waarin regeringsfondse, waaronder rampfondse wat vir virusverligting opsy gesit is, op ‘n ongekende skaal geplunder word, is dit van kardinale belang dat Saul alles moontlik doen om korrupsie, wat hierdie land op sy knieë gebring het, te beëindig.

“Bowenal moet hy sorg dat niemand hul posisie op die provinsiale uitvoerende raad kan misbruik om hulself te verryk nie, omdat die skoonmaak van hierdie administrasie van bo af moet begin. Lewenstyloudits is lankal ‘n instrument wat deur die DA-bestuurde Wes-Kaapse regering gebruik word om korrupsie te beveg. Dit is waar Saul moet begin en eindig.

“Ek het persoonlik, sedert 2011,  aangedring op lewenstyloudits wat in die Noord-Kaap uitgevoer moet word. As leier van die amptelike opposisie en as lid van die provinsiale wetgewer (LPW), het ek selfs aangebied om eerste te gaan. Maar tot dusver kon Premier Hazel Jenkins, premier Sylvia Lucas en selfs Dr Saul nie bewys dat hulle bereid is om sterk teen korrupsie op te tree nie.

“Gegewe die aard van korrupsie in hierdie land, is dit toenemend noodsaaklik dat absoluut elke moontlike meganisme gebruik moet word om te voorkom dat miljoene rande in sakke van individue met die regte konneksies, tenderpreneurs, ramppreneurs sowel as enige iemand anders wie dink dat dit okay is om die regering, en sodoende ons arm en werklose burgers te beroof, beland.

“Korrupsie is ‘n misdaad teen ons mense. Dit is die grootskaalse diefstal van dienste en maatskaplike verligting waarop arm en kwesbare mense afhanklik is om te oorleef. Dit is verkeerd op elke vlak en almal wie durf waag om aan korrupsie deel te neem, moet gestop word.”

*mediaverklaring

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *