Dis tussen jou ore

Dagsê Jimmi,

En toe skok ‘n (swart) persoon my nou die dag op BBC, tot binne-in my fondamente.

Jy ken my mos, my mater. Toe ek eerstejaar op Stellenbosch was (ek gaan nie sê watter jaar dit was nie, maar jy sal gou kan aflei), lees ek ‘n boekie van dr. Martin Luther King Jr. Ek kan nie meer die titel daarvan onthou nie, maar dit maak nie nou saak nie. Wat tóé saakgemaak het, was die ontnugtering – ja, ontnugtering! – dat ‘n swart persoon hoegenaamd ‘n boek kon skryf…

Dit skok jou seker, maar jy weet tog ek het op ‘n plattelandse dorp grootgeword waar daar nie swartmense was nie. Die naaste “lokasie” was in die dorpie langsaan. My “swart” ervaring in die vyftiger- en sestigerjare was dus uiters beperk. En die bietjie wat ek gesien het, het die indruk by my geskep dat al wat swart mens is, ongeletterd was. 

My konserwatiewe opvoeding, kerk en skool en al, het my ook nie reggehelp nie.

Toe kom ek op universiteit – en jou werklikwaar, ‘n swart persoon het ‘n boek geskryf! Kon jy nou meer!

Daarna het ek nogal gegroei. Ek spaar jou die detail, so ek vat kortpad: Jy kan my van baie dinge beskuldig, maar nie van rassisme nie. Jy ken my mos.

Maar die man op BBC het my laat wonder hoe sensitief ek regtig oor die kleurlyn is. Die man, wat gepraat het oor die Black Lives Matter-veldtog, het oor sy (swart) ervaring in Amerika gepraat. Oor rassisme wat hom daagliks in die gesig staar.

Hy seg toe iets soos dit: “White people will ask me: ‘Can I help you?’ They will not ask: How can I help you’?”

Daar steek ek toe in my voetspore vas en spits my ore, soos ‘n jakkals dit nie kan doen nie. 

Die vraag “can I help you”, verduidelik hy toe (onnodiglik, want ek het dadelik verstaan), laat hom onwelkom voel. Ontuis. Wat soek hy daar? As hy wit was, borduur hy voort, sou die vraag gelui het: “How can I help you?”

Daar het jy dit. So klein soos dit; so belangrik soos dit. Die weglating van een, klein, eenvoudige woordjie het hierdie man aanstoot gegee.

En dit laat my wonder: Wat is daar wat ek níé weet nie? Hoeveel keer het ek al mense van ‘n ander velkleur aanstoot gegee, sonder dat ek dit geweet het? Hoeveel keer het ek die “how” uit my sin gehaal?

Skielik voel ek skaam dat ek my moeder strip as iemand my bel en vra: “How are you?” My eerste reaksie is mos om te vra wat de hel dit tog met daardie persoon te make het. Tot dit tot my deurdring dat daardie persoon net sy of haar maniere ken. Hy, of sy, is so grootgemaak. En ek moet dit weet. En plek maak daarvoor.

Geen wonder nie dat swart mense dikwels “dankie” sê as ek ook wil weet hoe dit met hom of haar gaan. Nie dat ek regtig wil weet nie, maar ek vra dit tog om die boodskap oor te dra dat ek verstaan.

En dan is daar die groetery. Jong swart mense kyk my aan sonder om ‘n oog te knip. My instink sê vir my: “As dit dan jou houding is…” Totdat ek verstaan dis goeie maniere, vir hom of vir haar, om ‘n ouer persoon nie eerste te groet nie. Uit respek. Vir die madala.

So klein; so belangrik, Jimmi.

So “meneer” al wat ouer Khoi is my, hier op die dorpie waar ek nou woon. Die “baas” het “meneer” geword. Die jonger mense is gelukkig meer bevry – hulle noem my “oom”. Ek hou daarvan. Dis nader.

Tot ek nou die dag vuurmaakhout koop by ‘n bakkie wat langs die pad geparkeer staan. Die Khoi, so min of meer my ouderdom, “meneer” of “oom” my nie. Hy “jy” my.

Ja, dit was vreemd, bloot omdat die ander Khois dit nie doen nie. Skielik is ek en houtman op dieselfde vlak – waar ons hoort. Ek vra hom sy naam. Ek gee hom my naam. Ons skud blad. Nou is ons op voornaam-terme. Soos dit hoort.

Skielik wonder ek nie meer waar die nuwe Suid-Afrika is nie. Ek wéét nou waar dit is. Dis nie daar buite nie. Dis nie op my voorstoep nie. Dis waar dit hoort, Jimmi – dis tussen houtman se ore. En tussen myne.

Maar voor ek groet, laat ek net sê: Dis raar, maar waar – want dis presies waar die ou Suid-Afrika ook is. Tussen mense se ore.

Wie ore het om te hoor, laat hulle hoor. 

Ek sê maar net, Jimmi.

Wederom,

Johan Retief (oftewel Oom Boet)

Jy is welkom om saam te stem of te verskil. Skryf na ombudkonsult@gmail.com as jy ‘n stuiwer in die armbeurs wil gooi. Jou oompie sal mooi lees wat jy te sê het – en, wie weet, straks nog daarop reageer ook.

LEES MEER HIER OP FIND IT NUUS.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


The maximum upload file size: 10 MB.
You can upload: image.
Links to YouTube, Facebook, Twitter and other services inserted in the comment text will be automatically embedded.

%d bloggers like this: