KykNET reageer na K- en M-woord op ‘Kwarantyn’ uitglip

Foto: The South African

Een van kykNET se deelnemers aan Kwarantyn, ’n realiteitsreeks wat 24 uur op DStv kanaal 149 uitgesaai word, het ’n groot bohaai veroorsaak toe sy regstreeks na ’n k***pakslae verwys het.

Twee Afrikaanse gesinne ding teen mekaar mee om onder die kykers as die gewildste gesin onder die kykers gekroon te word en ’n prys van R250 000 los te slaan. Die gesinne is saam in ’n huis ‘in kwarantyn’.

Jana le Roux, ma van die Le Roux-gesin, het die woord laat uitglip en is van die program gediskwalifiseer.

Karen Meiring, direkteur van kykNET-kanale, het gesê: “Daar is Donderdagaand ’n rassistiese opmerking gemaak wat teen die grondwet, die gees van die program en die wese van kykNET indruis. Ons vra om verskoning aan almal wat hierdeur beledig is.”

“KykNET skram nie weg van die verantwoordelikheid om historiese en aktuele komplekse onderwerpe te takel en te belig nie. Die situasie vra vir beslissende optrede en word met dringendheid bestuur,” sê Meiring.

Pam Okkers, die tannie van die Scheepers-gesin in die program, het tydens ’n kaartspeletjie vir lede van haar familie gesê: “Hei, jou m***!”

Die Menseregtekommissie het gesê daar moet op ’n konsekwente wyse teen almal wat rassistiese aanmerkings maak, opgetree word. “Konteks speel ’n rol, maar dit is problematies as dit by dié soort woorde kom,” sê adv. André Gaum van die Menseregtekommissie.

Meiring sê dié is nié so ’n geval nie. “Pam se taalgebruik, gemik op die jonger vroue in hul span, was beledigend, maar binne die kultuurele konteks nie rassisties nie. Die woord het nie dieselfde konnotasie vir verskillende groeperings binne Afrikaanse taalgemeenskappe nie.”

Meiring sê die deelnemer is egter ernstig aangespreek oor die taalgebruik.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


The maximum upload file size: 10 MB.
You can upload: image.
Links to YouTube, Facebook, Twitter and other services inserted in the comment text will be automatically embedded.

%d bloggers like this: