Polisie konfiskeer gesteelde sonpanele

Deel hierdie storie / Share this story

GALESHEWE – Die polisie in Kagisho het op 15 Mei ‘n verdagte in hegtenis geneem en sonpanele, doringdraad en gereedskap ter waarde van R16 000 gekonfiskeer.

Volgens brig. Mohale Ramatseba, polisiewoordvoerder, was adjudant-offisier Serame Noko op patrollie toe hy ‘n motor in Mathanzima in Kagisho gestop en deursoek het. Hy het die sonpanele, doringdraad en gereedskap in die verdagte se motor gevind. Die 37-jarige verdagte kon geen rede gee vir waarom hy dié goedere in sy besit gehad het nie.

Die verdagte is volgens brig. Ramatseba in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde goedere en verskyn binnekort in die Galeshewe-landdroshof.

Die Noord-Kaapse polisiebestuur het die polisiebeampte geprys vir sy moeite om diegene wat die wet oortree uit die samelewing te verwyder.