August 5, 2021

WATER: Vierde dag sonder water

KIMBERLEY. – Dit is reeds die vierde agtereenvolgende dag wat Kimberley sonder water is.

Die Sol Plaatje-munisipaliteit het reeds twee weke gelede ‘n kennisgewing uitgestuur dat die water afgeskakel gaan word. Die water was veronderstel om Donderdag tot Vrydagaand afgeskakel te wees, terwyl daar ‘n nuwe pompstasie geïnstalleer word.

Inwoners hier is raadop en moedeloos na die water al twee dae langer as gesê, af is. Meeste inwoners het ook net voorsiening gemaak vir twee dae sonder water.

Lae watervlakke

Johan Smit, oud-raadslid van die DA, sê hy het vanoggend weer na die Newton-reservoir gegaan, asook na die Riverton-reservoir. “Een van die kleppe wat lug en water uit die pyp laat, was foutief, wat veroorsaak het dat die pomp weer afgeskakel moes word. Die damme in Kimberley se watervlakke is baie laag, en moet eers weer op standaard wees voor die pompe hier aangeskakel kan word.

“Ongelukkig neem dit ‘n paar uur vir die water om tot in Kimberley te kom. Die damme hier moet dan eers opgevul word voor die pompe by die Newton-reservoir aangeskakel kan word.”

Hy sê laagliggende areas soos Beaconsfield en Hillcrest sal heel moontlik eerste water kry, maar areas reg langs hierdie reservoir sal laaste water kry.

Ongelukkigheid

Inwoners het hulle ongelukkigheid en moedeloosheid op Facebook weergegee.

Leandri Fourie sê almal was veronderstel om voorsiening te maak tot Vrydagaand, maar soos gewoonlik is daar altyd iets anders.

“Dit is immers ons grondwetlike en basiese mensereg om voldoende water te hê. Ons is op pad na vyf dae sonder water. Dit is genoeg tyd om die probleem skadelik te maak. Dit was vandag 33° C, virusse versprei, minderbevoorregtes ontwater, ensovoorts,” sê Samantha Chantel Dooling.

Susan Botes van Heerden sê: “Daar is gesê om voorsiening te maak vir die komende week, maar die krane is leeg.”

“Die bietjie water wat ons in Verwoerdpark het, is bruin en nie bruikbaar vir enigiets behalwe die toilet nie,” sê Liezl Gouws.

Premier

Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, sê hy moet die werk van die Sol Plaatje-munisipaliteit waardeer, omdat hulle die kapasiteit van die water-infrastruktuur verbeter, maar dit is egter tyd dat hierdie benadering tot infrastruktuurontwikkeling in die munisipaliteit tot ‘n einde kom. “Dit lei tot ongekende moeilike tye vir die mense in Kimberley.”

“Sonder om die skuld vir ander te gee, moet ons oplossings vind vir die waterprobleme van die Sol Plaatje-munisipalieit. Ons sal hierdie komende week daaraan begin werk.”

1 thought on “WATER: Vierde dag sonder water

  1. Monumenthoogte. Geen water vanaf Woensdagaand. Was gister oggend vir baie kort rukkie aan. Steeds geen water

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *