DA-parlementslid bring nuwe energie na wetgewer

NOORD-KAAP – Ofentse Mokae, hoofsweep van die DA in die provinsie, is vandag by die Noord-Kaapse wetgewer as ’n lid van die parlement ingesweer.

Andrew Louw, DA-provinsiale leier, sê die DA is opgewonde om Mokae in die posisie voor te stel . 

Hy sê dit is nog nie seker in watter portefeulje Mokae gaan dien nie, maar met sy ondervinding kan hy in enige van die portefeuljes geplaas word.

Mokae wat in Galeshewe grootgeword het, het sy loopbaan by die DA as ’n aktivis in die strate begin, sê Louw. 

Mokae sê hy bring jare se ondervinding en ’n nuwe energie waarmee hy die provinsie, asook nasionaal, wil dien.

Mokae se agtergrond

2006

Volgens Louw het Mokae sy tande in die politiek geslyp toe hy in 2006 as jeugleier van die kongres van Suid-Afrikaanse studente (COSAS) gedien het. Hy is in dieselfde jaar as die plaaslike sekretaris van die studenteraad verkies. Mokae het verder by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie in Kaapstad gaan studeer.

2011

Mokae het in 2011 amptelik by die DA aangesluit terwyl hy nog ’n student was, sê Louw. Gedurende dié tyd het Mokae sy energie aan verskeie veldtogte bestee.

Sy bekendste optog was teen die sogenaamde geheimhoudingswetsontwerp. Na sy studies het Mokae as ’n parlementêre ondersteuningsbeampte in die nasionale vergadering gedien. Daar het hy LP’s met navorsing bygestaan.

2013

In 2013 het Mokae na sy tuisdorp, Kimberley, teruggekeer, waar hy voortgegaan het met aktivisme vir die DA. Hier het hy die eerste DA-tak in wyk 5 begin. Mokae is later tot sekretaris van die uitvoerende komitee verkies. Hy is in dieselfde jaar as ’n veldwerker van die party in die stad aangestel. Hy is ook in dié jaar as ’n provinsiale jeugkoördineerder en ’n navorser van die DA by die wetgewer aangewys.

2014

Mokae is in 2014 as deel van die Mandela-Washington-genootskap verkies om deel te neem aan die US President Barrack Obama’s Young African Leaders Initiative (YALI). Die doel van die program was om ‘n opkomende generasie Afrika-leiers te ondersteun terwyl hulle werk om ekonomiese groei en demokratiese bestuur te bevorder, asook die samelewingstrukture te versterk wat die land sal help groei.

2016

In 2016 word Mokae op 29-jarige ouderdom tot raadslid verkies.

LGBTQI+ aktivis

Mokae is ook ’n aktivis in die Lesbian Gay Bisexual Transgender Queer and Intersex-gemeenskap (LGBTQI+). Hy is ook lid van die Triangle-projek in Kaapstad. Dié projek bevorder jong individue wat as openbare amptenare verkies word om die kwessies en stryd van die LGBTQI Plus-gemeenskap in die politieke ruimte te bespreek.

Louw sê: “As ‘n jeug- en LGBT-aktivis en ‘n jong leier in die DA is ons baie opgewonde om Mokae by die wetgewerspan aan te sluit.”

“Ons is vol vertroue dat sy bydrae veral op die jeug- en geslagsfronte die party ’n mondstuk sal laat word vir die jeug en gemarginaliseerde gemeenskappe. So verseker ons dat die uitdagings wat hierdie gemeenskappe in die gesig staar, uitgelig word en die aandag geniet wat dit verdien.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: