Gemeenskap dreig met ’n “shutdown” by R187 miljoen-skoolprojek

KIMBERLEY – Ongelukkige lede van die gemeenskap dreig met ’n “shutdown” by die multimiljoen rand projek om Laerskool Redirile, in Galeshewe, te herbou.

Dit volg na lede van die gemeenskap van wyk 12 in Redirile sedert Mei vir inligting wag, sê hulle.

Pontsho Mocwana, ’n verteenwoordiger van die groep, sê lede se ongelukkigheid volg op bewerings van korrupsie en onreëlmatighede met die aanstelling van die hoof skakelbeampte van die onafhanklike ontwikkelingstrust (OOT) wat die projek bestuur.

Onreëlmatighede tydens onderhoudproses

Mocwana sê die pos vir ’n skakelbeampte was net vir twee dae geplaas voordat hulle onderhoude begin voer het. Na bewering was Lesedi Mocwagole, ’n ANC-raadslid, op die paneel teenwoordig tydens die voer van onderhoude. Mocwana glo Mocwagole se teenwoordigheid daartydens is ’n oortreding van die munisipale beleid.

Skakelbeampte het glo nie matriek nie

Die kwalifikasies van die gekose skakelbeampte word ook bevraagteken. Mocwana sê dit word beweer die persoon wat aangestel is, het nie matriek nie.

Kwalifikasies nie altyd belangrik nie

FiND iT het met Mocwagole gesels. Op vrae oor die kwalifikasies van die gekose skakelbeampte sê hy die gekosene is nie op meriete van kwalifikasies gekies nie. Hy sê die persoon is op meriete van haar voorlegging tydens die onderhoudproses gekies. 

Mocwagole sê kwalifikasies is nie noodwendig ’n vereiste nie, indien ’n persoon ondervinding het of oor die nodige eienskappe vir die plasing beskik.

Meer werksgeleenthede in volgende fase

Mocwagole sê die kontrakteur, ’n maatskappy van Johannesburg, het die tender gekry om die skool te herbou. Hulle is deur die nasionale regering aangewys.

Hy sê meer werksgeleenthede sal in die volgende fase van die projek beskikbaar wees.

Die projek word vertraag omdat die gebied baie rotsagtig is. Mocwagole sê die skool moet teen 2021 klaar gebou wees.

Moderne laerskool vir ’n duisend

Geoffrey van der Merwe, woordvoerder vir die onderwysdepartement, het in Julie aan ’n plaaslike koerant bevestig dat die kontrakteur die tender geldig en regverdig verkry het. 

Van der Merwe sê wanneer die skool klaar gebou is, sal dit onderrig aan ongeveer ’n duisend leerders bied. “Dit sal moderne fasiliteite hê soos swembaddens, ‘n kafeteria, amfiteater, wetenskaplaboratoriums, om net ‘n paar te noem,” sê hy.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: