Tafel Lager Griekwas verseker semi-finaal

Net dalk kom die Currie-beker vir die eerste keer in 49 jaar huis toe.  Dit is beslis nog te vroeg om te spekuleer, maar die laaste semi-finaal wat op Tafel Lager Park aangebied was, is in 1998 deur die einste WP gewen nadat die Percy Montgomery daardie dag op ’n sopnat veld Griekwas deurmekaar geskop het.    

Al daardie herinneringe is nou iets van die verlede en net dalk is hierdie die span van die Noord-kaap se jaar. 

Wat Vrydagaand betref, het Griekwas voor ’n volgepakte stadion gewys dat hy nie as ’n klein unie gesien moet word nie, deur tande te wys vir wat moes gewees het ’n gevaarlike WP-span. Dit het egter vir Griekwas net ses minute geduur om eerste punte aan te teken.  

Ederies Arends was beslis op sy stukke met goeie hardlooplopies wat vir hom twee drieë besorg het, terwyl hulle losskakel en kaptein George Whitehead deur goeie leiding sy span tot ’n welverdiende oorwinning aangevoor het. 

Saterdag lê die begeesterde Leeus voor, maar Griekwas, wat wel nou die belangstelling van meer as net sy ondersteuners prikkel, behoort soos die hele seisoen dalk net te veel skietgoed vir die span van Gauteng te hê.  

In hierdie stadium sal dit eintlik onregverdig wees om sekere spelers uit te sonder, maar hier is ’n paar spelers wat wel weekliks ’n verskil maak.  

AJ le Roux, wat ewe tuis op haker as voorry is, domineer met sy krag elke naweek sy teenstanders in so ’n mate dat hy amper as ’n ekstra losvoorspeler gesien kan word.  Sy werksverrigting is uitsonderlik hoog en Griekwas het hom nie verlede jaar maksimaal benut nie.  

Sias Eberson het nie teen die Vrystaat ’n goeie wedstryd gehad nie en liefs een wat hy dalk sou wou vergeet. Teen die Bulle was hy amper weer op peil en Vrydag was hy weer sy ou self en mens wonder soms hoekom die stoutseun van Griekwas nie op ’n hoër vlak speel nie.  Eberson is ongelooflik hard by die afbreekpunte en wanneer hy die kans kry om bal te dra, vat dit meer as een opponent om hom grond toe te bring.  

Die klein buksie agter die oond, Zak Burger, kan ’n gevoelige slag vir Griekwas wees en die afrigtingspan kan maar net hoop dat hy vinnig genoeg kan herstel vir die semi-finaal.  Die kanse lyk skraal dat hy betyds vir die Leeus-wedstryd gereed sal wees. 

George Whitehead mag dalk vir die meeste ondersteuners nie lyk na ’n losskakel wat domineer nie, maar hoe meer hy speel, hoe meer besef jy dat die ervare 10 soveel beheer oor die wedstryd het dat hy male sonder tal sy agterlyn wegstuur, wat tot oorloopdrieë lei. Die skakel tussen sy pak en sy senters is eersteklas en iets wat sy teenstanders meer attent op behoort te wees. Sy spel word goed afgewissel met taktiese skoppe en aanvalle wat feitlik uit niks ontstaan en dan op drieë uitloop. Met sy skopwerk kan ons niks fout vind nie en hierdie speler behoort in watte toegedraai te word. 

Ederies Arends bewys maar net naweek vir naweek dat jy hom nie kan ignoreer nie. Beslis is hy nie die vinnigste vleuel in Currie-beker rugby nie, maar beslis een van die sterkste hardlopers. Dit verklaar natuurlik hoekom hy soveel drieë die jaar kon druk.

Anthony Volmink, Griekwas se heelagter, speel sy beste rugby ooit en al wat ons kan sê is, indien hierdie speler misgekyk word vir die jaareind se Springbok-span, is daar iets groot fout met ons paneel van keurders se prosesse.   

In ’n neutedop is Griekwas een van die beste spanne wat verdediging betref en hulle aanvalle is uiters gevaarlik. Enige span wat in Kimberley opdaag en dink vyf punte is op die skinkbord aan hulle gebied, maak ’n reusefout.  Dit mag dalk net jou Currie-beker drome in stukkies op Tafel Lager Park los.

Griekwas speel Saterdag om 15:00 in hulle laaste uitspeelwedstryd vir die seisoen en ’n oorwinning behoort vir die span van die Noord-Kaap ’n tuisvoordeel vir die semi-finaal te gee. 

Dit is nog te vroeg om te spekuleer oor die uitspeelrondes, maar die kanse lyk goed dat indien Griekwas wel tuis speel, die Sharks of die Leeus op ons wag. Beide spanne is maar nie lief om hier te kom speel nie. En dit voor ’n volgepakte stadion – dit kan net dalk ’n lang middag word.  

Sien julle Saterdag. 

Afskop 15:00

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *


The maximum upload file size: 10 MB.
You can upload: image.
Links to YouTube, Facebook, Twitter and other services inserted in the comment text will be automatically embedded.

%d bloggers like this: