Verpleegkollege in stad verloor nie akkreditasie nie, sê premier

Dr. Zamani Saul, premier van die Noord-Kaap, sê Henrietta Stockdale-verpleegkollege in Kimberley gaan nie hulle akkreditasie verloor nie.

Luidens ’n persverklaring deur die premier in antwoord op die provinsiale rede-debat word die vier jaar diploma vir registreerde verpleegsters, twee jaar oorbruggingskursus sowel as die een jaar diploma in verloskunde aan die einde van Desember geskrap.

Slegs studente wat vóór 31 Desember 2019 met opleiding begin het, sal toegelaat word om die kwalifikasies te voltooi.

Nuwe kwalifikasies wat aan die vereistes van die hoëronderwys kwalifikasies sub-raamwerk voldoen, is deur die gesondheidsdepartement vir dié kollege goedgekeur. Die kollege is nou in die proses om vir akkreditasie aansoek te doen.

Saul sê die proses word bestuur om te verseker akkreditasie vir alle nuwe kwalifikasies word betyds verkry. Sommige van die kwalifikasies sal eers vanaf 2020 aangebied word. 

Dieselfde geld vir die kollege vir opleiding in nood-mediese dienste. In dié geval moet die kollege ook aansoek doen vir akkreditasie vir nuwe kwalifikasies wat hier aangebied word, verduidelik die premier.

Die universiteit van Johannesburg is genader om die provinsiale kollege te help ontwikkel en bemagtig om die nuwe kwalifikasies aan te bied. Saul sê die kollege streef na volle akkreditasie terwyl hulle aan kapasiteit en vermoëns bou.

Daar is ’n verandering in die veld van nood-mediese dienste wat deur ’n paradigmaskuif beïnvloed word. Kort kursusse het plek gemaak vir drie vlakke in nasionale noodsorg onderrig en opleidingskwalifikasies. Die skuif vanaf kort kursusse na formele hoëronderwys het gelei tot die professionalisering van nood-mediese dienste, sluit Saul af.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: