Man sien kind word raakgery voor Burger King

’n Straatkind is na bewering laat vanmiddag op die hoek van Burger King omgery.

Hannes Engelbrecht, ’n leser en inwoner van Kimberley, het die voorval sien gebeur.

“Ek het by Checkers gestop om goed te kry. Die outjie wat saam met my ry, woon in Ernestville, so ek gaan laai hom af. So ’n paar karre voor ons, was daar ’n silwer bussie. Die bussie het links afgedraai, daar voor Burger King.”

Engelbrecht sê die volgende oomblik het hulle net ’n slag gehoor.

“Die ou wat langs my gesit het, het gesê daar stamp die ou iemand! Ons sien toe hoe die bussie bo-oor die kind ry. Dit het gelyk of hy oor ’n bees of iets gery het.”

Engelbrecht sê die ontstellendste was die bussie het net aanhou ry. “Dit het vir ’n oomblik gelyk of hy wil briek slaan, maar hy het net aanhou ry. Ek het daar by die man op die perd omgedraai en gekyk of ons hom nie kan volg nie, maar ons het hom verloor.”

Hulle het teruggery tot by die hoek van Burger King, maar teen dié tyd was daar ’n samedromming van mense om die kind. “Daar was ’n vrou wat haar pakkies net so gelos het en die kind vasgehou het. Ek is baie ontsteld. Dit is ’n straatkind, maar mens voel mos darem iets vir iemand anders.”

By navraag het ER24 bevestig hulle was nie self op die toneel nie, maar is bewus van die voorval. Die kind het glo weggehardloop nadat hy bygekom het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: