“Ek is ’n dwelmverslaafde in rehab” – Juan deel 6

Juan van Rensburg (36) is sedert 11 Februarie 2019 in die Noupoort-rehabilitasiesentrum en is nou 19 weke daar.

“Ons planne om vir Dusty te gaan kuier, is uiteindelik gefinaliseer. Ons gaan hierdie komende naweek vir hom kuier,” sê Ellouise van Rensburg, Juan se suster. “Ons kan ongelukkig net van die Saterdag tot die Sondag gaan kuier, maar beplan steeds om die beste van daardie tyd saam met hom te maak.”

Blyplek op Noupoort

Ellouise sê hulle kon gelukkig blyplek op Noupoort kry en daarom mag Juan by hulle oornag. “Indien ons nie blyplek op Noupoort kon kry nie, moes ons op ’n omliggende dorp, soos Colesberg, oorbly, maar dan mag hy glad nie by ons oornag het nie. Ons moes hom dan in die oggend gaan haal en dan ook weer in die aand terugvat plaas toe, waar hy tans woon.”

Reëls vir die naweek

Sy sê die reëls vir die naweek is egter baie streng. “Hy mag glad nie alleen in die publiek loop nie en mag glad nie in in winkels soos drankwinkels, apteke of poskantore kom nie. Hy mag net ’n foon onder ons toesig gebruik en mag geen eks-meisies of ou vriende kontak nie. Sekere soorte medikasie wat alkohol bevat, moet vermy word,” verduidelik sy. “Hy mag glad nie met kontant werk nie en mag geen DStv-kanale kyk wat hom enigsins in die versoeking sal lei nie. Ons mag ook nie ver met hom ry nie en mag net tot op Middelburg of Colesberg met hom gaan.”

“Ons mag geen toiletware of kospakkies vir hom gee nie, maar ons mag wel vir hom nog warm klere neem. Die klere gaan egter eers deursoek word voor hy dit mag kry.”

Positief toets

Ellouise sê Juan gaan weer, na die kuiertjie, vir dwelms, alkohol en nikotien getoets word. “Indien hy vir enige van hierdie drie goed positief toets, begin hy die program van vooraf. Dit wil sê weer by week een.”

Verlang na ouer broer

“Hy is vreeslik opgewonde om ons te sien en ons vir hom. Hy wens net hy kon ons ouer broer, Reynier, en sy gesin ook sien. Hulle bly in KwaZulu-Natal, so dit is dit nie altyd vir hulle moontlik om oral te kan gaan nie. Reynier is baie ondersteunend. Nie net vir Dusty nie, maar vir my en my ma ook.”

Uitgehonger

Sy sê hulle gaan definitief vir Dusty na die Spur op Colesberg neem. “Ek glo hy is al uitgehonger vir ’n groot stuk steak,” sê sy laggend. Dit is volgende week Juan se laaste week op die plaas. Hy word volgende naweek na fase twee op Middleton oorgeplaas.

1 thought on ““Ek is ’n dwelmverslaafde in rehab” – Juan deel 6

  1. Fantasties, Juan, ek lees elke week jou vordering, al ken ek jou nie is ek so trots op jou, ek kan net dink hoe jou familie moet voel, jy is ‘n voorbeeld vir baie mense .
    Ek hoop julle geniet julle kuiertjie terdee, en doen als wat lekker is.
    Mag God jou styf hou in die tyd van reabilitasie, en jou dra dag na dag met beterskap.
    HOU VOL, EK BID VIR JOU

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: