“Daardie man is ’n hero!”

“Daardie man is ’n hero!” Dit is die woorde van ’n omstander wat toegekyk het hoë Charl Stoltz (45) vanoggend saam met sy vrou en seun uit die landdroshof stap.

Stoltz, wat op aanklag van poging tot moord en die afvuur van ’n pistool in ’n munisipale/publieke area, verskyn het nadat hy Maandag (10 Junie 2019) ’n man in die rug geskiet het omdat die man na bewering hulle selfoon gesteel het, is vanoggend vrygelaat.

Landdros Celeste Nameka het vanoggend in die hof gesê kriminele is nie bang vir Suid-Afrika se swak wette nie. “Baie mense glo indien hulle optree in selfverdediging, hulle toegesluit word, maar rowers word vrygelaat.”

Nie indrukwekkend nie

“Die getuienis wat gister deur ao. Johannes Markgraaff gelewer is, is nie indrukwekkend nie. Ten spyte van sy 28 jaar as ’n ondersoekbeampte. Hy het homself tevrede gestel met die toestand van die man in die hospitaal, asook die bevestiging van die applikant se adres,” het Nameka gesê. Sy sê Stoltz moes ’n ekstra aand in aanhouding deurbring, omdat Markgraaff nog tyd gegun is om sy werk te doen.

Waarskuwing

Landdros Nameka het verder gesê na baie oorweging, sy Stoltz op ’n waarskuwing vrylaat. Voorwaardes van sy vrylating sluit in dat hy elke Woensdag by die naaste polisiekantoor (Vanderkloofdam) moet aanmeld en dat hy by elke toekomstige hofverskyning moet wees. Indien hy nie vir ’n hof-verskyning opdaag nie, sal daar ’n lasbrief vir sy arrestasie uitgereik word.

“Pappa kom huistoe”

Tracy Stoltz, Charl se vrou, het verlig by die hof uitgestap. “Pappa kom huis toe,” het sy huilend vir haar seun buite die hof gesê. Charl het huilend sy vrou en seun omhels en gevra of hulle ’n koffie kan gaan koop.

Hy moet op 26 Julie 2019 weer in die Kimberley-landdroshof verskyn.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: