Vrou is nie tant Stienie nie

So het die landdroshof hier vandag beslis nadat ‘n vrou van Kimberley ‘n besigheidsman in hegtenis wou laat neem omdat hy ‘n foto van tant Stienie op sy Facebook-blad gedeel het.

Linja Allen, van Northern Cape Security Solutions, het aansoek gedoen vir ‘n lasbrief om Rudi Ferreira, ook bekend as die satiriese skrywer “Muishond Malan”, die naweek tronk toe te stuur.

Muishond Malan se Facebook-profiel het ‘n foto van tant Stienie, van die jare 80’s se “Agter elke man”-televisiereeks, gedeel.

In die foto van tannie Stienie staan sy met ‘n sigaret met die woorde: “Ek weet nie hoekom moet ek so suffer nie”.

Allen voel dat die foto deur Muishond gedeel is met die intensie om haar te verneder. Sy is onlangs afgeneem waar sy rook en voel Ferreira teister haar met die tant Stienie-foto.

Muishond Malan het sewe ure voor die foto van tant Stienie, FiND iT se artikel oor die hofsaak tussen Ferreira en Allen gedeel. Allen wil ‘n interdik teen Ferreira kry waarin sy vra hy mag haar nie teister nie.

Mark Fletcher, Allen se regsverteenwoordiger, het gesê hy soek Ferreira agter tralies.

Landdros Celeste Nameka het bevind die inskrywing van tant Stienie kan nie met Allen verbind word nie.

Sy het ook bevind FiND iT het nie betrekking tot Allen se aansoek nie.

Muishond mag nie verder enige artikels deel waarin Allen voorkom nie.

Die saak is tot 4 Junie uitgestel.

Tant Stienie van “Agter elke man”.
Linja Allen en Craig Van Rensburg buite die hof Dinsdag.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *