Munisipaliteite betaal om duisende mense in Noord-Kaap na Pretoria te vervoer

Duisende mense in die Noord-Kaap gaan môre op munisipale onkostes tot in Pretoria vir die presidentsinhuldiging vervoer word.

Ongeveer 2000 mense in die Noord-Kaap gaan per bus aangery word. AfriForum het talle protesbriewe van inwoners van die Noord-Kaap teen die president se versoek – dat munisipaliteite van dié provinsie 2 000 mense na die presidensiële inhuldiging in Pretoria op 25 Mei 2019 moet aanry – by die provinsiale departement van samewerkende regering en tradisionele sake in Kimberley ingedien. Die burgerregte-organisasie het ook ’n protesbrief aan die presidensie gestuur rakende hierdie kwessie.

Sello Matsie, woordvoerder van Sol Plaatje-munisipaliteit, het nie geantwoord op die vraag of die munisipaliteit namens die persone wat die presidentsinhuldiging gaan bywoon reëlings getref het nie.

Voorts sê hy: “Ons weet nie wat werkers in hulle private tyd doen nie. Omdat hulle aan verskillende politieke partye behoort en lede van die publiek is, hoef hulle dit nie aan ons te rapporteer nie. Ons weet nie. Môre is Saterdag. Behalwe vir ongeveer 30 werkenemers onder andere kassiere en werknemers by elektries, water en sanitasie en die brandweer, werk die res nie op Saterdae nie en ons gaan op Sondae kerk toe.”

Carina Bester, ’n woordvoerder by AfriForum, sê: “Munisipaliteite sukkel reeds om die mas op te kom en kan nie eens basiese dienste aan inwoners verskaf nie weens ’n gebrek aan fondse. Belastingbetalers gaan gebuk onder ongereelde of geen watertoevoer, vullis wat nie verwyder word nie en rou riool wat in die strate afloop omdat munisipaliteite versuim om hul grondwetlike plig na te kom.”

“As jy die huidige ekonomiese toestand van Suid-Afrika in ag neem, is die kostes verbonde aan hierdie presidensiële inhuldiging ongegrond. Dit is onregverdig en onverantwoordelik van die presidensie om boonop hierdie juk op munisipaliteite te plaas. Dit is tyd vir burgers om op te staan teen hierdie vermorsing van geld en dít is presies wat hierdie veldtog verteenwoordig. Daarom sê ons ‘stop die bus’ met die verkwisting van munisipale fondse,” sê Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo.

LP John Steenhuisen het onlangs in ’n persverklaring beraam dat die kostes vir die inhuldiging gaan die belastingbetaler ongeveer R120 miljoen kos.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: