Ford SA maak finale besluit na Ranger byna uitbrand

Onverwante voorval van ’n Ranger wat uitgebrand het. | Standerton Advertiser

Pine Pienaar, ‘n sakeman van Pretoria, sê hy is ontevrede met die diens en gebrek aan deursigtigheid waarmee sy eis hanteer is nadat sy Wildtrak byna uitgebrand het.

‘n Woordvoerder van Ford Suid-Afrika, Minesh Baghaloo, sê: “Ford is bewus van mnr. Pienaar se klagte. ’n Ondersoek van die eienaar se Ranger het bewys dat daar prestasieverbeteringe aan die powertrain control module (PCM) aangebring is, gelewer. Die PCM beheer die enjin-aanjaer (turbo) en ander funksies van die enjin.”

Voorts sê hy: “Veranderinge wat aan die PCM gemaak word, kan die waarborg op die ratkas en onderstel ongeldig verklaar. Ons het die enjin as ‘n gebaar van welwillendheid herstel, maar ons is nie in ’n posisie om verdere herstelwerk aan die voertuig te maak nie. Ons wil graag ons klante herinner daaraan dat ongemagtigde veranderinge die waarborg van die voertuig ongeldig kan maak.”

Pienaar sê: “Ek het op die snelweg gery toe ek ’n helse ontploffing onder die enjinkap gehoor het. My Wildtrak het aan die brand geslaan. Gelukkig het ek ’n brandblusser by my gehad en kon ek die brand blus voordat dit verder skade kon aanrig, maar die enjin en bedrading was reeds uitgebrand. Ek vermoed olie in die aanjaer het op die manifold beland en as gevolg van die hitte aan die brand geslaan.”

“Ek het die motor na my Ford-handelaar gevat wat vir my uitstekende diens gelewer het. Ek het ‘n eis by Ford SA ingedien. Hulle het die eis ondersoek en afgekeur en gesê dit is omrede ek ’n buffer (bumper) installeer het wat nie deur Ford goedgekeur is nie. Ek het vir hulle die Approved by Ford-merk op die buffer gewys en hulle het gesê hulle is jammer,” verduidelik Pienaar.

Voorts sê hy: “Hulle het die enjin herstel, maar het teruggekom na my en gesê hulle gaan nie die ratkas, wat ook in die voorval beskadig is, regmaak nie. Hulle het aan my verduidelik dat daar aan die computer-boks (ECU) gepeuter is en dat die kilo’s nie met hulle rekords ooreenstem nie. Hulle het my beskuldig dat ek die programmatuur van ‘n ander voertuig oorgedra het. Ek het vir hulle gesê dit is verregaande. Ek het die voertuig nuut gekoop en het nog nooit prestasieverbeteringe aan die bakkie aangebring nie.

“Hulle het vir my gesê hulle het die ECU na Ford in Europa vir ondersoek gestuur, sonder my toestemming of wete. Ek het die verslag aangevra, maar het dit tot vandag nog nie ontvang nie. Die enigste bewyse wat hulle tot dusver gelewer het, is een gebreekte knip op die ECU, maar die eenheid is nog met die fabrikaat se gom geseël,” verduidelik Pienaar.

Pienaar het plakatte gemaak en het dit al op verskeie snelweë in Gauteng opgerig en het ook ’n Facebook-blad geskep om motoriste van sy ervaring bewus te maak.

“Ek is nie tevrede met die diens of deursigtigheid wat Ford Suid-Afrika ten opsigte van my eis gelewer het nie en wil almal daarteen waarsku,” sluit Pienaar af.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *