Rolbalbane in Cassandra nou kriminele se blyplek

Die rolbalbane in Cassandra word tans gebruik deur kriminele vir blyplek en om gesteelde goedere weg te steek. Die gebou staan al vir ‘n geruime tyd leeg en word nie op die oomblik gebruik nie.

‘n Anonieme inwoner van Cassandra het onlangs op ‘n noodgroep die inwoners in Cassandra gewaarsku om meer paraat te wees omdat die misdaad in die area besig is om toe te neem. “Die ongewenste inwoners het dele van die gebou geplunder en onder andere kragkabels en die boorgatpomp gesteel,” vertel die inwoner.

Volgens die inwoner was daar onlangs ‘n inbraak by die meenthuis wat grens aan die erf van die rolbalbane. “Ons was dadelik op die toneel en het die spoor gevolg wat gelei het tot by die beskadigde gebou waar die kriminele bly. Ons het die platskermtelevisiestel, wat gesteel was, onder ‘n kombers weggesteek gekry.”

Dit was nie die enigste vermoedelik gesteelde items daar nie. “Die gesteelde goedere word agter sinkplate of onder komberse weggesteek omdat hulle dit nie helder oordag kan ronddra nie.”

Die inwoner, saam met ander inwoners, het al menige kere probeer om die mans te vang en weg te jaag, maar omdat die plek al so beskadig is, is daar oral plekke waar hulle kan wegkom. “Die laaste keer wat ons daar was, was daar vier mans, maar ek is seker daar is al meer.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: