Christina Kiddie se maatskaplike werker praat

Foto: Verskaf

FiND iT het met Christina Kiddie se maatskaplike werker gesels om uit te vind wat by die jeugsorgsentrum aangaan.

Chrizelna Coetzer (26), wat tans besig is met haar meestersgraad in forensiese maatskaplike werk, het ons op ’n toer van die sentrum begelei . “Ek was al in baie ander sentrums en ons besef net hoe bevoorreg ons dan is. Die tieners is soms ondankbaar.” Christina Kiddie het tans 28 kinders in hulle sorg, waarvan die jongste dogtertjie drie jaar oud is.

“Ek het aanvanklik onderwys studeer, maar dit was nie vir my uitdagend genoeg nie. Ek het ’n belangstelling in maatskaplike werk gehad en het eerder besluit om in hierdie rigting te studeer en is nou amper klaar met my meestersgraad in forensiese maatskaplike werk,” verduidelik sy.

Buite maatskaplike werkers

“Ons het ook maatskaplike werkers wat “buite maatskaplike werkers” genoem word. Elke kind hier het ’n buite maatskaplike werker. Indien ons ’n klagte ontvang waar kinders en seksuele mishandeling betrokke is, word ’n buite maatskaplike werker gestuur om dit te ondersoek en hulle besluit dan of die kind uit die omstandighede verwyder moet word. Indien so, kom die kind vir 90 dae se veilige sorg na ons toe, waartydens die buite maatskaplike werker verder ondersoek instel en kyk of daar enige verandering in die omstandighede is.

Ek help dan die kinders by die sentrum met terapie en vind dan ook uit wat die vorige omstandighede was. As dit seksuele mishandeling was of daar is enige sprake daarvan, word daar dadelik ’n saak by die polisie gemaak en word die kind dan gestuur vir ’n fisiese evaluering. Hulle word dan ook gestuur vir ’n seksuele-mishandeling-assessering, wat uitgevoer word deur ’n forensiese maatskaplike werker. Hulle gaan dan ook vir ’n paar sulke sessies en indien daar sulke sessies is, mag ek nie terapie vir die kinders gee nie.”

Aanpassing

Sy vertel hoe die kinders maklik aanpas by hulle. “Indien die kind se hofbevel om hier te wees na twee jaar verval en weer hernu moet word en die ouerhuis se omstandighede het nog nie verander of verbeter nie, gesels ons met die kinders om te hoor of hulle nog gelukkig is. Die kinders moet ook vir die hof kan sê of hulle nog gelukkig is en of hulle nog hier wil bly. Volgens die kinderwet moet die kinders ook vir hulleself kan besluit. Die buite maatskaplike werker ondersoek steeds elke twee jaar die geval, maar ongelukkig verander die omstandighede nie sommer nie, so dan bly die kinders nog by ons, behalwe as die ouers ook terapie gekry het en duidelike vordering en verbetering toon.”

Elkeen is uniek

“Nie een geval is soos die ander nie. Elke kind is uniek, so ek kan nie sê dat een kind se storie my meer geraak het nie. Daar is gevalle wat baie emosioneel is, maar ek voel jy moet iemand hê met wie jy kan praat sodat dit nie te veel vir jou raak nie. Baie maatskaplike werkers het daarom ’n terapeut wat ook bystaan.”

Chrizelna verduidelik hoe die goeie goed ook help om die slegte goed uit te skakel. “Om te sien hoe baie van die kinders ’n waardering het om hier te wees  en vordering maak. Daar is ook kinders wat suksesstories het, so dit is die moeite werd.

Chrizelna Coetzer

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: