Nog ‘n boer vermoor, vrou met kookwater gegooi

‘n Boer van Bonnievale in die Wes-Kaap, Tool Wessels (55), is Maandagaand op sy plaas Kapteinsdrift vermoor, berig Maroela Media. Sy vrou, Liezel (55), is na bewering gemartel en met kookwater gegooi. Sy het die aanval oorleef.

Liezel is rekenmeester van Bonnievale Wines en Tool was betrokke in die gemeenskap en het onder andere in die beheerliggaam van Hoërskool Bonnievale gedien.

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het die voorval aan FiND iT bevestig. “Vier mans met klapmusse het die egpaar omstreeks 18:00 aangeval.” Volgens Cameron is Liezel met ‘n skerp voorwerp in die borskas gesteek en haar rug is met kookwater gebrand.

Sy het na ‘n buurplaas gevlug en die polisie is ontbied. Tool se liggaam is ‘n paar honderd meter van die plaashuis by ‘n pompstasie langs die rivier gevind is.

Liezel is tans in die hospitaal en word behandel.

Volgens Cameron het die aanvallers Tool vermoedelik ingewag.

Lt.-kol. Andre Traut, polisiewoordvoerder van die Wes-Kaap, het aan Maroela Media gesê hulle is besig met ‘n ondersoek en geen verdagtes is nog in hegtenis geneem.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: