Waaghalsige boef twee keer by een huis

Foto: Scorp Security

’n Boef het na bewering twee keer vanoggend by ’n huis in Andersonstraat probeer inbreek.

Polisie is ontbied

Pam van Wyk, die eienaar van die huis, het aan FiND iT vertel hoe ’n waaghalsige boef twee keer in een oggend in hulle erf was. “Hy het net so voor 02:00 vanoggend ons leer en agt tuinstoele uit ons erf gesteel. Ons het die polisie ontbied, waarna hulle die area platgery het, maar hulle kon hom ongelukkig nie kry nie.”

Waaghalsig

“Ons het toe weer gaan slaap. Ons het klein hondjies, so toe hulle omstreeks 05:00 weer begin blaf, toe weet my skoonseun iets is nie pluis nie. Hy het gaan kyk en het die man weer in ons erf betrap. Hy het hom gevang en vasgebind met bruin kleefband. Ons het die polisie gebel, maar hulle het gesê hulle is te besig om weer na ons huis te kom, so toe bel my dogter vir Scorp Security. Op daardie oomblik kom mense om my buurman op te laai en sien toe wat aangaan en het ons kom help. Ons het daarna die man oorgegee aan Scorp Security toe hulle kom.”

“Ek glo hom nie”

Sy verduidelik hoe hulle hom gevra het waar die res van die tuinstel is, waarop die man gesê het hy het nie die stoele gevat nie. “Ek het hom nie geglo nie, want wat wil jy doen met net ’n tafel?” vra sy.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *