Ontwerper van landsvlag sterf

Fred Brownell, die man wat die nasionale vlag van ‘n demokratiese Suid-Afrika ontwerp het, is Vrydag in die ouderdom van 79 oorlede, berig Maroela Media.

Nathi Mthethwa, minister van kuns en kultuur, het Brownell as ‘n patriot en nasionale held beskryf. Hy was ‘n voormalige staatsheraldikus.

Luidens ‘n verklaring het Mthethwa gesê dit is onmoontlik om die geskiedkundige toeval van Brownell se dood kort na die suksesvolle afhandeling van Suid-Afrika se sesde nasionale en provinsiale verkiesing en Suid-Afrika se viering van 25 jaar se onafhanklikheid te ignoreer.

“Die toeval besorg dalk aan Brownell die laaste eer vir die belangrike rol wat hy in die geskiedenis van ‘n post-demokratiese Suid-Afrika speel,” sê Mthethwa.

Brownell het destyds sy ontwerp aan oud-minister Roelf Meyer gewys, waarna hy dit aan sy ANC-eweknie, Cyril Ramaphosa, gewys het. Blykbaar was daar ‘n lang stilte voor ‘n applous uitgebreek het.

Die vlag  moes deur oud-president Nelson Mandela ook goedgekeur word. Die ontwerp is aan hom gefaks en iemand moes glo na die naaste skryfbehoeftewinkel hardloop en die vlag moes ingekleur word.

Brownell was ook die ontwerper van die Namibiese vlag en landswapen.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *