“Ek sal hardloop” – Ilsé Retief

“Here, ek weet nie wat nodig of moontlik is nie, maar U weet. Ek sal hardloop. Doen wat ek kan. Berei U die harte voor volgens die kennis van U wil.” Dit is die woorde van Ilse Retief wat sy onlangs in ’n video vasgevang het tydens haar fondsinsameling vir Bybels.

Hoe het jy betrokke geraak?

“Ek het ongeveer drie jaar gelede betrokke geraak by Geopende Deure, nadat oom Johan Kruger van Geopende Deure by ons gemeente, NG Dutoitspan, ’n praatjie kom aanbied het oor die vervolgde lande en die groot behoefte wat in hierdie lande is vir Bybels,” verduidelik sy.

Two-Oceans-marathon

“In Januarie 2019 het ek en oom Johan Kruger, saam met ds. Enslin in sy kantoor gesit en gesels oor fondsinsameling vir Bybels.”

Sy vertel hoe hulle gepraat het oor iemand wat dalk kan hardloop vir Bybels. “Die volgende oomblik was dit asof almal vir my gekyk het en aangesien ek n hardloper is, het ek net daar besluit dat ek hierdie Two-Oceans-marathon gaan hardloop vir Bybels.”

Voorbereiding vir die Two Oceans

“Jy kan vir seker nie so ver hardloop as jy nie geoefen het nie,” sê sy. “Ek moes baie hard oefen vir die Two Oceans, aangesien dit ‘n ultramarathon is oor ’n afstand van 56 km en ter voorbereiding het ek ongeveer vier keer per week hier in Kimberley geoefen. In die week het ek so tussen 10-12 km gehardloop. Op Saterdae het ek ’n long run van tussen 25-30 km gehardloop.”

Fondsinsameling

Die bedrag wat ek tot op datum ingesamel het, is ongeveer R15 000. Ons kan omtrent 250 Bybels met hierdie geld aankoop, wat ongelooflik is. Indien 250 mense wat nog nooit n Bybel in hulle hande vasgehou het nie, ‘n Bybel kan ontvang, kan die rimpeleffek wat dit kan hê, ongelooflik wees. Ons, hier in Suid-Afrika, besef nie hoe bevoorreg ons is om ‘n Bybel te kan hê nie. Ek wil amper so ver gaan om te sê ons aanvaar dit soms as vanselfsprekend.

Grootste uitdagings

Die grootste uitdaging  vir my was die vroeg opstaan in die oggende, maar aan die einde was en is dit alles die moeite werd. Ek wil ook net noem dat ek dit beslis nie sou kon hardloop as dit nie vir ons hemelse Vader was wat my die krag gegee het om dit te kon doen nie. Alle eer aan Hom.

Foto’s: Facebook

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *