Tweejarige dogtertjie se lyk in Vaalrivier gekry na ontvoering

Die lyk van n tweejarige dogtertjie is gevind nadat sy vir ses dae vermis was.

Kapt. Olebogeng Tawana, polisiewoordvoerder, sê die lyk van die meisie is vandag in die Vaalrivier by Delportshoop gekry.

“Die polisie se soek-en reddingseenheid, die K9-eenheid, duikeenheid en ander lede van die polisie het die lyk van die meisie omstreeks 12:50 gekry. Verskeie polisie-eenhede het saamgespan om te help in die soektog na die vermiste kleuter (2) van Delportshoop.”

Die lyk van die meisie is met n klip swaarder gemaak sodat sy nie na bo kon kom nie.

Dit volg nadat die kleuter op 12 April deur ’n 41-jarige man ontvoer is nadat ‘n poging om die dogtertjie se ma te verkrag, misluk het.

Die verdagte het sedertdien vlugtig in die hof op Barkly-Wes verskyn. Hy word onderskeidelik vir poging tot verkragting, huisbraak met die intensie om te steel, asook huisbraak met die intensie om aan te rand, asook ontvoering, aangekla.

Tawana sê nadat die lyk van die meisie gekry is, sal die verdagte ook vir moord aangekla word.

“Die meisie se klere is net ‘n paar meter weg vanwaar haar lyk gevind is, gekry.”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *