Meer as ’n maand sedert laaste raadsvergadering

’n Vierde agtereenvolgende raadsvergadering  is uitgestel weens die afwesigheid van ANC-raadslede.

Luidens die raad se bywoningsregister is die laaste spesiale raadsitting op 23 Maart gehou om die voorlegging van die munisipale begroting te bespreek. Daar was nog nie ’n enkele geskeduleerde normale raadsvergadering vir hierdie jaar nie.

“ANC-verteenwoordigers draai hul rug op die inwoners van Kimberley nadat hulle versuim het om die vergadering vir die bespreking van die munisipale begroting by te woon,” verduidelik Andrew Louw.

Voorts sê hy: “Besigheidsmense het gister bymekaargekom vir die geskeduleerde publieke deelnameproses wat oor die munisipale begroting handel. Die deelname kon nie voortgaan nie, omrede die stadsraad nog nie die begroting bespreek het nie.”

“Dit is ’n klap in die gesig van die inwoners van die stad wat boonop te midde van die duur lewenskoste wag om te hoor watter toenames hulle in die koste van elektrisiteit, water en dienste kan verwag. Gemeenskapslede is nie gelukkig met die swak dienslewering van die ANC-beheerde regering nie. Dit kan in die toekoms tot shutdowns lei. Mens sou dink die ANC sal onmiddellik optree, maar hulle besluit om die munisipaliteit tot stilstand te bring, gooi brandstof op die vuur.”

“Die DA vermoed ’n faksie-oorlog tussen die voormalige burgemeester Mangaliso Matika en Patrick Mabilo vir beheer oor Sol Plaatje-munisipaliteit is hiervoor te blameer. Ons vermoed die ANC wil hierdie saak onder die mat vee tot die verkiesing oorgewaai het.”

“Die DA gaan ’n beroep op Bentley Vaas, die LUR van Coghsta doen om onmiddellik in te gryp. Ons gaan ook ’n beroep op die provinsiale voorsitter van die ANC, Zamani Saul, doen om raadslede, die speaker en die burgemeester tot orde te bring. Hulle word salarisse betaal om die inwoners te dien. Hulle word nie betaal om faksie-oorloë uit te voer nie.”

“Ons glo nie ons beroep gaan ’n impak maak nie, omdat beide Vaas en Saul deel is van die ANC wat nie omgee om die werk van Sol Plaatje te bemoeilik nie. Waarskynlik gee die ANC meer om vir hulle stryd om mag en die beskerming van wanbestuur en korrupsie as vir die inwoners van Kimberley.”

“’n DA-beheerde regering sal onmiddellik ingryp om so ’n doeltreffende regering met ’n skoon rekord te verseker. Slegs’n DA-regering  kan hoop bring na ons duur, vuil en slaggatgeteisterde stad,” sluit Louw af.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *