Ford-deurslotte vir motorinbrake geteiken

Die deurslotte van die Ford Fiesta, EcoSport en Ranger is van die reeks voertuie wat deur kriminele geteiken word.

Die presiese metode wat die verdagtes gebruik om die slot te beskadig en toegang tot die motor te verkry, is nog nie bekend nie. Waarskynlik word die slot met mag oopforseer.

Ford-eienaars stroom met klagtes na ’n Facebook-groep genaamd My FORD was broken into South Africa met soortgelyke inbrake waar die slot beskadig is om toegang tot die motor te verkry.

Klagtes van groepslede

Siphiwe Mabena, ’n lid in die groep, sê hy vermoed die slot word met ’n skroewedraaier oopgemaak.

Dèsirèe Chaves, ’n groepslid, sê: “Dit het met my ook gebeur. Hulle het my kind se skoolsak gesteel. Daar was niks van waarde in nie. Ek is te bang om my motor enige plek te stop. Wat kan gedoen word? Dit is malligheid!”

“Dieselfde het met my Ford EcoSport gebeur. Hulle het ook my kind se skooltas met sy iPad in gevat. My kind moet ’n hele kwartaal se werk oordoen,” sê Nicole Lofstedt.

Chene Brent sê: “Dit het met my EcoSport gebeur terwyl ek by die gym was. Hulle het my kattebak leeggemaak.” Voorts vra sy of sy die slot so moet los of herstel.

“My Ford Ranger was ook verlede jaar geteiken. Ek wonder of die slot nie heeltemal verwyder kan word nie. Ek sal eerder sukkel om dit oop te maak, voordat ek ’n maklike teiken bly,” verduidelik Shane Simmonds.

Francois Dewet Pienaar sê: “Dit het gister met my vriend se Ranger by die Universiteit van Pretoria gebeur.”

Opname oor Ford-inbrake kry reaksie

Jaco Moolman, ’n groepslid, het ’n opname begin wat teen die tyd van publikasie meer as 49 reaksies ontlok het.

Volgens die opname het die inbrake sedert Januarie 2019 toegeneem. Die Fiesta word met 52% die meeste in inbrake geteiken, gevolg deur die EcoSport 20%, Ranger 10%, Focus 8%, Figo 4% en Everest die minste met 1%. Volgens die opname blyk dit of kriminele die 2017-jaarmodel verkies, gevolg deur die 2015- en 2016-model.

Ford-eienaar skep petisie

Kerosha Davids, ook ’n lid van die groep, het ’n petisie gestig. Hy sê hy het die petisie gestig omdat hy voel hy is ’n slagoffer van ’n defektiewe slot.

Ford Suid-Afrika antwoord

Ford Suid-Afrika sê hulle voertuie word nie deur kriminele uitgesonder nie. Minesh Baghaloo, woordvoerder van Ford Suid-Afrika, sê: “Motorinbrake is ’n misdaad wat die hele motorindustrie raak.”

“Hier by Ford is ons kliënte se veiligheid en sekuriteit van uiterste belang. Daarom is ons ernstig oor die sekuriteit van ons voertuie. Ons het ’n span misdaadvoorkomingspesialiste en ingenieurs wat konstant saamwerk. Hulle doen navorsing oor hoe misdadigers by verskeie fabrikate ingebreek het, om sodoende die sekuriteit van ons voertuie te verbeter,” verduidelik Baghaloo.

FiND iT het Baghaloo gevra of hulle bewus is van die metode wat gebruik word om by sekere Fords in te breek en of hulle weet watter reeks- en jaar-modelle daardeur affekteer word. “Dit is ons terugvoering vir nou,” het Baghaloo geantwoord.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *