Oud-Protea en haar ongebore baba verongeluk

Elriesa Fourie-Theunissen (25), ‘n gewese Protea-vrouekrieketspeler, het op 5 April net buite Klerksdorp saam met haar ongebore baba, net drie weke voor die geboorte, verongeluk.  Elriesa was agt maande swanger met ‘n babadogtertjie.

Die baba sou Elriesa en haar man Rudi (27), wat geringe beserings opgedoen het, se eersteling gewees het. Die egpaar was vir agt jaar ‘n paartjie en sou op 30 April hul derde huweliksherdenking gevier het.

Wat het gebeur?

Die Fouries was van hul huis op ‘n kleinhoewe buite Stilfontein op pad na die vendusiekraal in Klerksdorp om beeste te gaan laai toe die ongeluk gebeur het.

Volgens Rudi het hulle ‘n groot plas water getref net voordat hulle oor ‘n treinbrug gery het. “Ek het die rem getrap en oor die middel van die pad gery omdat ek die water, amper soos ‘n dam oor die pad, probeer mis het. Die kar se een helfte het dit getref en toe is ons van die treinbrug af.”

Rudi vertel dat daar niks anders was wat hy kon doen  nie.”Ek het daai pad al baie gery. Dis die maklkiste pad van ons huis af tot by die vendusiekraal.”

Elriesa is na die ongeluk na die Life Anncron-hospitaal geneem. Die dokters het die baba prober red, maar dit was tevergeefs.

“Sy was ‘n engel”

“Daar is so baie mooi eienskappe wat ek van haar sal onthou. Dit is moeilik om haar in min woorde op te som. Sy was altyd vriendelik, nederig  en liefdevol. Sy het altyd alles in haar vermoë gedoen om almal gelukkig te hou, al het dit beteken sy kry seer. Sy het soveel lewens geraak. Sy het nie ‘n enkele vyand gehad nie. Sy was beter as net ‘n  droomvrou – n engel geleen van die Here af,” het ‘n gebroke Rudi aan FiND iT gesê.

Elriesa se afrigter

Francois van der Merwe, Elriesa se afrigter by die Noordwes Dragons, wat navrae namens die familie hanteer, vertel dat Elriesa “‘n wonderlike vrou was.”

“Almal het altyd vertroosting by haar gesoek as hulle probleme gehad het.Sy was so ‘n sagte mens. Ons gaan haar baie mis,” sê Van der Merwe

Elriesa se prestasies

Elriesa het Suid-Afrika in die drie eendagwedstryde en’n T20-kragmetig verteenwoordig en was ook deel van die Protea-groep vir die Wêreldbekertoernooi in 2013.

Elriesa was sedert 2016 Krieket SA se hoofafrigter in die Jouberton-township buite Klerksdorp.

Sy sou op 2 Mei 26 jaar oud geword het.

Rudi en Elriesa.

Foto: Facebook
Rudi en Elriesa op hul troudag.

Foto: Facebook
Rudi en Elriesa.

Foto: Facebook

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: