Sun. Mar 24th, 2019

Afrikaans is Groot: MTN-onttrekking, net strategie vir verkiesing

Die direksie van Afrikaans is Groot (AIG) vermoed die hele debakel is ’n strategie wat moontlik verband hou met die komende verkiesings-veldtogte van sekere groepe.

AIG het Vrydagaand die inskrywing op hulle Facebook-blad gedeel.

“Nog geen borg, insluitende MTN, het Afrikaans is Groot amptelik in kennis gestel dat hulle as borge onttrek nie.

“Afrikaans is Groot bly ’n musiek- en vermaaklikheid platform wat kunstenaars die geleentheid bied om hul talent ten toon te stel. Ons enigste doel is om musiek en vermaak vir die Afrikaanse gemeenskap aan te bied – iets wat alle kulture tog verdien. Hierdie platform is primêr geskep vir die getroue ondersteuners van Afrikaanse musiek, die publiek.

“Die platform verskaf ook inklusiewe werksgeleenthede vir kunstenaars, musikante, tegnici en ongeveer 300 personeel van alle rassegroepe en demografieë. “Vir ons, wat elke aand sien hoe konsertgangers hulself uitleef en die vertonings geniet met vermaak wat hul harte raak, sal dit baie hartseer wees as hierdie groep onrusstokers die toekoms van hierdie gevestigde en geliefde platform in die wiele ry.

“Afrikaans is Groot se posisie bly dus tot verdere kennisgewing onveranderd,” sê Arnold Coleske, uitvoerende vervaardiger van die Afrikaans is Groot-konserte.

AIG het verder gesê dat hulle sien uit na die res van die vertonings in die Kaap sowel as die komende konserte in Pretoria waarvoor daar reeds nagenoeg 100 000 kaartjies verkoop is.

“Baie dankie aan ons geliefde ondersteuners, vennote en getroue borge wat die vlagskip van Afrikaanse musiek op die water hou. Ons beloof om niemand ooit teleur te stel of in die steek te laat nie.”  

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.

%d bloggers like this: