Afrikaans is Groot: MTN onttrek weens Steve Hofmeyr se betrokkenheid

MTN het Vrydag aangekondig dat hulle hul borgskap van die gewilde produksie Afrikaans is Groot (AIG) onttrek weens die betrokkenheid van die uitgesproke sanger Steve Hofmeyr.

Die selfoonmaatskappy is sedert 2015 een van AIG se borge.

Volgens Mthokozisi Ndlovu, MTN se woordvoerder, het  MTN sedert Februarie hulle bedenkinge gehad of hulle steeds betrokke wil wees by die produksie, maar het op die ou einde besluit dat hulle alle bande met AIG wil verbreek.

“Deur ons handelsnaam en netwerk wil MTN Suid-Afrikaners weer bymekaarbring. Dit is jammer dat AIG voortgaan om Hofmeyr te betrek. Hy gaan ons nie help om daardie doelwit te bereik nie,” sê Ndlovu.

Ndlovu sê ook dat hulle bang is hulle gaan kliënte verloor deur enigiets waarby Hofmeyr betrokke is, te ondersteun.

In 2015 het Land Rover en Pick ‘n Pay hulle borgskappe met AIG beëindig oor ‘n tweet wat Hofmeyr op Twitter gemaak het.

Sien die tweet hier:

Sedert die tweet het Hofmeyr nog soortgelyke uitsprake op sosiale media gemaak wat veroorsaak het dat menige feeste alle bande met Hofmeyr en sy handelsnaam verbreek het.

In ‘n verklaring wat deur AIG uitgereik is, sê hulle ten spyte van die terugslag, hulle nie betrokke gaan raak by die uitlatings wat op sosiale media deur kunstenaars geplaas word nie. “AIG gaan nie kommentaar lewer op die persoonlike of openbare standpunte van enige kunstenaar, insluitende Hofmeyr, nie. Die dag toe die mense die kaartjies vir die vertoning koop, het hulle geweet Hofmeyr gaan daar wees.”

Hulle sê verder Hofmeyr is een van Suid-Afrika se gewildste sangers en sal dus nie uit die produksie verwyder word nie.

Hofmeyr, wat bekend is vir sy uitlatings, is die middelpunt op al die plakkate vir die vyf uitverkoopte vertonings van 14 tot 17 Maart in Kaapstad, sowel as GrandWest Casino en Sun Arena by die Times Square in November en Desember die jaar.

Ander groot borge insluitend Toyota, Huisgenoot, Beeld, Via en Netwerk24 het gesê dat hulle nie hulle borgskappe gaan onttrek weens Hofmeyr se betrokkenheid nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: