ANC gryp in by protesgeteisterde Kimberley-kolleges

Die voorsitter van die ANC in die Noord-Kaap, Zamani Saul, het op Vrydag 22 Februarie 2019 met die leierskap van SASCO, NEHAWU, die LUR van onderwys, Martha Bartlett, asook Tshepo Pharasi, die hoof van die department van onderwys, vergader om ’n oplossing te vind vir die kwessies wat TVET-kolleges teister.

Die ingryping kom nadat studente en dosente van verskeie TVET-kolleges in Kimberley protesaksies begin het wat sedert Donderdag 14 Februarie 2019 in daaglikse betogings ontaard het.

Deshi Ngxanga, die provinsiale sekretaris van die ANC in die Noord-Kaap, sê: “Die ANC is sedert die protestaksie wat deur SASCO geloods is besig om met belanghebbendes te onderhandel sodat onderrig by TVET-kolleges kan voortgaan. Dit is kommerwekkend dat studente nie klasse kon bywoon nie. Studente het basies ’n hele kwartaal verloor. Onderwys is ’n hoofprioriteit vir die ANC. Onderrig bly een van die enigste maniere om die ongelykheid, werkloosheid en armoede wat duisende Suid-Afrikaners teister te beveg en oorwin.”

Die vergadering het die volgende oplossings gelewer:

  • Die ANC het ’n taakspan saamgestel wat lede van SASCO, NEHAWU, COSATU, SADTU en die departement van onderwys insluit.
  • Die minister van onderwys, Naledi Pandor, stuur ’n span na Kimberley om met die hulp van die ANC-taakspan die situasie by TVET-kolleges op te klaar.
  • Die twee taakspanne sal op Dinsdag 26 Februarie 2019 vergader.

“Ons vertrou die samewerking tussen die belanghebbendes sal verseker dat onderrig by TVET-kolleges  dringend hervat sal word,” sê Ngxanga.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *