December 7, 2021

Flamink-tragedie weens menslike inmenging

Die mens is self verantwoordelik vir die Kamfersdam-tragedie. So sê Beryl Wilson, departementshoof van dierkunde by die McGregor-museum in Kimberley.

Bioloog verbreek stilte

Wilson, ’n bioloog, het vir die eerste keer eksklusief teenoor FiND iT haar stilte oor die kleiner flaminksoort van Kamfersdam gebreek.

“Ek glo ’n herrie gaan losbars oor hierdie onderwerp. Ek praat reguit, omdat ek geen persoonlike of politieke agendas het nie.”

Waar broei die flaminke?

Wilson verduidelik Kamfersdam is ’n jaarlikse pan. “Dit beteken die pan dra slegs water gedurende die reënseisoen. Wanneer daar water is, sal daar flaminke wees en wanneer dit opdroog, is die flaminke veronderstel om na natter gebiede soos Etosha, Oos-Afrika of selfs net oor die provinsiale grens tot in die Vrystaat te migreer.”

Kimberley kry water vanaf die Vaalrivier en dit sou ideaal wees om die afvalwater wat herwin is terug na die Vaalrivier te pomp, maar weens die afstand en kostes daaraan verbonde is dit onuitvoerbaar. Oortollige water wat nie deur die retikulasie-stelsel vir die besproeiing van Kimberley se parke gebruik is nie, is vanaf die watersuiweringsaanleg in Homevale na Kamfersdam gepomp.

Watergebruik verhoog, bou kunsmatige eiland

Kimberley se waterverbruik het in ‘n stadium so toegeneem, wat veroorsaak het dat Kamfersdam heeljaar water bevat. Die flaminke se populasie het saam met die water toegeneem en die behoefte aan ’n kunsmatige eiland vir die flaminke het ontstaan en die kunsmatige eiland is vir die flaminke gebou waarop die voëls kon skuil en broei.

Kunsmatig lei tot katastrofe

Die situasie is onnatuurlik geskep, sê Wilson. “Ek glo met die skep van die kunsmatige eiland het ons onsself opgestel vir ’n toekomstige ekologiese katastrofe soos wat ons nou ervaar. Dit is ironies – ’n paar jaar gelede het Natuurbewaring met politiese en persoonlike agendas die munisipaliteit gedwing om oor die langtermyn water van die Homevale-watersuiweringsaanleg na ander areas te pomp omrede watervlakke in die dam geweldig toegeneem het. Die damvlakke het die nabygeleë spoorlyn en die kunsmatige eiland bedreig. Die munisipaliteit het ’n ooreenkoms aangegaan met myne en grondeienaars in die area om waterpype aan te lê om die water vanaf Kamfersdam af te lei.”

Langtermyn ekologiese skade

“So het die mens ingemeng by ’n brose ekosisteem. Alhoewel die aantal flaminke ’n asemrowende toneel geskep het vir toeriste, besoekers en voëlliefhebbers, twyfel ek of dit die langtermyn ekologiese skade aan die omgewing en flaminke regverdig.”

Flaminke kom regoor Afrika voor en dit is normaal vir die aantal voëls in ’n populasie van ’n sekere gebied om weens seisoenale reën, voedselbronne en selfs as gevolg van die kwaliteit van die water te wissel. Getalle kan selfs oornag wissel. Wanneer die flaminke vir te lank in een gebied woon, word voedsel en nesbronne uitgeput, maar dit kan veroorsaak dat siektes soos botulisme onder die voëls en alge in die water as gevolg van hulle eie mis uitbreek. Oor ’n lang tydperk veroorsaak dit ook inteling. Selfs by ander panne is flaminke die voëlspesie met die hoogste mislukte tellings en sterftesyfers onder kuikens.”

Droogte nie die oorsaak van die tragedie nie

Kamfersdam moes reeds opgedroog het en dan sou die flaminke migreer het. Omdat daar oortollige water is, het dit ’n vals gevoel van veiligheid vir die flaminke geskep. Die broeipare het voortgegaan om eiers te lê. Nou word die flaminkkuikens in haglike omstandighede deur die broeipare agtergelaat.

Maar wat nou?

“As diereliefhebbers, politici, natuurbewaarders en Jan Alleman moet ons bymekaarkom en vra: ‘Wat moet gedoen word?’ Vanaf ’n ekologiese standpunt glo ek hoe minder ons inmeng, hoe beter. Ek glo nie dit is moontlik om water wat na die dam gepomp word heeltemal te stop nie, maar glo wat in die dam gepomp word, moet gereguleer en behoorlik behandel word en ook van so ‘n gehalte wees sodat dit nie verdere skade aan die pan berokken nie. Dit is moontlik om in te gryp en van die kuikens te red, maar hulle gaan by ’n geskikte organisasie geplaas moet word wat oor die nodige hulpbronne beskik om na die spesiale behoeftes en dieet van die flaminke om te sien. Weer eens – of dit goed is vir die genetiese diversiteit van die spesies, is ’n nog ’n saak wat ’n vurige debat mag uitlok by evolusioniste wat kan argumenteer of dit ’n moontlikheid skep vir swak gene om in ‘n toekomstige flaminkpopulasie ingebring kan word. Moraliste sal argumenteer om in te gryp om ons foute reg te stel, omrede die natuurlike orde bedreig is.”

Wilson sê die provinsiale natuurbewaringsowerhede het die finale besluit en is op die ou end verantwoordelik vir die uitreik van die nodige permitte vir enige aksies wat geneem mag word.

Reddingswerkers van flaminkkuikens kan trots wees

“Ek is baie trots op die mense wat tot die redding van die flaminkkuikens gekom het en ook baie dankbaar die ramp is nie deur politici vir eie win misbruik nie. Dit is eenvoudig mense wat vir die natuur omgee. Ek hoop hierdie katastrofe word as ’n ramp verklaar sodat mense om ’n tafel bymekaar kan kom om soortgelyke rampe in die toekoms te voorkom. As dit nie gebeur nie, sal hierdie reddingspoging net ’n herinnering bly vir elke keer wat ons die flaminke in die steek gelaat het, as gevolg van die binnegevegte, gekibbel en geskarrel na roem. Ek kan maar net hoop daar word na rede geluister.”

Wat is die nuutste oor die flaminkkuikens?

Meer as 800 kuikens is Vrydag met ’n privaat vliegtuig in bokse vanaf Kimberley na Pretoria gevlieg, waar hulle deur Mike Bolhuis, privaatspeurder en voëlkenner, versorg word. Fondse word uit alle oorde gevra om hand by te sit om die kuikens wat agtergelaat is en steeds op Kamfersdam is, te red en te versorg. Wilson sê Kimberley kan trots wees op sy inwoners.

FiND iT hou jou op hoogte.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *