Agt vuurwapens van die straat af

RUSTENBURG – Die polisie in die Noordwes het hier tydens ’n operasie beslag gelê op agt vuurwapens, asook ammunisie.

Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder, sê die vuurwapens is in vyf onverwante voorvalle gekonfiskeer.

 ’n 47-Jarige man is Vrydag vir twee ongelisensieerde vuurwapens in hegtenis geneem nadat verkeersbeamptes hom afgetrek het toe hy in ’n wit Mazda-bakkie oor ’n rooi verkeerslig gery het. ’n Blou lig en handskoene is in die voertuig gevind.

Mokgwabone sê die polisie is in ’n onverwante voorval na die Northam-kliniek ontbied. ’n Man is by die kliniek dood verklaar nadat hy in Mmorogong geskiet is. ’n Ongelisensieerde vuurwapen met een patroon is op die toneel gevind waar die beweerde skietery plaasgevind het.

Op Saterdag het die polisie ’n verdagte blou Hyundai Getz met drie insittendes voorgekeer en deursoek. Drie verdagtes van 32, 38 en 41 is in hegtenis geneem nadat elkeen in besit van ’n ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie gevind is.

Mokgwabone sê in Tlhabane is ’n man by die taxi-staanplek in die bobeen geskiet. Hy is later in hegtenis geneem omdat hy nie ’n lisensie kon toon vir ’n vuurwapen met ammunisie wat in sy besit gevind is nie.

In Phokeng is vier verdagtes vir diefstal by ’n besigheid in hegtenis geneem. 

Tien verdagtes gaan binnekort in verskeie howe verskyn. 

Lt.-genl. Baile Motswenyane, provinsiale polisiekommissaris van die Noordwes, het die polisiebeamptes vir uitmuntende dienslewering bedank.

Sy sê die suksesse gaan beslis as ‘n waarskuwing dien dat die polisie die feestyd gereed is om enige misdadigheid te hanteer om te verseker dat gemeenskappe veilig is en voel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: