Nog ’n sekuriteitswag praat uit

KIMBERLEY – Nog ’n sekuriteitswag van ‘n plaaslike maatskappy praat uit na hy en ander werkers glo vir ’n geruime tyd op ’n betaling wag.

Die sekuriteitswag, wat anoniem wil bly, sê hy is een van van meer as ses werkers wat glo sedert November 2018 vir ’n uitbetaling wag nadat die maatskappy se kontrakte met die staat verstryk het. 

Dit volg op Philip Martin se nadering van die media vroeër die week toe hy ’n saak van bedrog oor ‘n voorsorgfonds teen dieselfde eienaar van nog ’n sekuriteitsmaatskappy geopen het.

Meer as R600 000 verskuldig

Die totale bedrag wat aan die werkers vir onder andere salarisse, bonusse en verlof verskuldig is, beloop ’n som van meer as R600 000 volgens dokumente wat FiND iT gesien het.

Volgens ’n omsendbrief deur die maatskappy wat aan die werkers uitgestuur is, kon die onderneming weens onvoorsiene omstandighede nie onmiddellik die finale uitbetaling maak nie. Na bewering is die maatskappy vanweë ’n situasie besig met herstrukturering.

Geen vordering tot uitbetaling 

Die wag sê dit is waar dit nou gelaat is. Hy sê: “Daar was nog geen vordering nie. By navraag word dieselfde brief met dieselfde verskoning aan ons gestuur.”

Gaan beter by nuwe maatskappy

“Dit gaan baie beter vir my by die maatskappy waar ek nou werk. Daarom wil ek anoniem bly, maar ek staan nie net vir myself op nie. ’n Paar van my vorige kollegas word hierdeur geraak,” verduidelik die wag.

Hy sê hy sal aanhou veg vir wat reg is. “Dit mag dalk nie vir ander veel geld wees nie, maar dit is geld wat aan my verskuldig is, waarmee ek na familie moet omsien,” sluit hy af.

Geen kommentaar

Die eienaar van die sekuriteitsmaatskappy en die operasionele bestuurder het geweier om kommentaar te lewer. Na bewering is die dokumentasie verouderd en is alternatiewe reëlings getref.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: