Flaminke te gestrem om vrygelaat te word

Foto: Save the Flamingo-Facebookgroep

KIMBERLEY – Sommige flaminke wat vroeër vanjaar hier uit die Kamfersdam verwyder is, het nou net een been en is ernstig gestrem. Ander is blind en het gebreekte vlerke. Hulle kan daarom nie weer by Kamfersdam vrygelaat word nie.

Deur publiek hanteer

Só sê Zandisile Luphahla, woordvoerder vir die departement landhervorming, landbou en natuurbewaring in die Noord-Kaap. Dit volg na berigte dat 195 van Kamfersdam se flaminke na byna ’n jaar nog nie hier vrygelaat is nie. Meer as 2000 flaminke en flamink-eiers is by die Kamfersdam in Februarie vanjaar deur lede van die publiek van Kimberley, verwyder. Die Kamfersdam het vir ‘n paar dae opgedroog en die flaminke is onder leiding van Mike Bolhuis van Pretoria verwyder. Hulle is deur lede van die publiek hanteer en gevoer. Luphahla sê dié oorblywende flaminke word nog in Pretoria aangehou. Minder as 300 flaminke is al by die Kamfersdam vrygelaat. Die res van die flaminke het dit nie gemaak nie.

Flaminke nog nie waterdig

Tania Anderson, van Save the Flamingo, het verlede week vrae geopper oor dié flaminke. “Hoekom is die flaminke nog oortrek met was as gevolg van hulle dieet en hoekom is hulle nog nie skoongemaak nie? Dit beïnvloed hulle waterdigtheid en hulle gesondheid.”

Nie groot genoeg dam

Sy het haar kommer oor die flaminke wat nie ’n groot genoeg dam het om in te bad nie uitgespreek en gesê hulle sal dan nie leer om te sosialiseer nie. Sy wou ook weet of daar studies op van die flaminke wat pokke het, gedoen gaan word en of dié studies deur ’n etiese komitee goedgekeur is. Verder wou sy weet of aan die permit-vereistes voldoen word.

Flaminke moet terugkom

Luphahla sê die department was nie bewus daarvan dat die flaminke met was bedek is nie. “Die voëls moet gewas word sodat hulle waterdig kan wees. Die voeding van die flaminke moet verander word sodat die was op hulle kan verminder. Met betrekking tot die voëls met die pokke, is voorgestel hulle moet vir navorsing gebruik word. Maar die departement ondersteun nie die voorstel nie, omdat soortgelyke studies reeds gedoen is.”

Luphahla sê die department se permitvoorwaardes moet nagekom word en die flaminke moet terugbesorg word aan Kamfersdam. “Die watervlakke en voedsel by Kamfersdam is tans goed vir die flaminke en daar is geen rede hoekom hulle nie kan terugkeer nie.”

Ongeveer 45 kan nie terugkom nie

Die department, Ekapa-myn en ’n privaat-veearts, wat deel vorm van ‘n bestuurskomitee, is besig om die vervoer van die flaminke na Kimberley te reël. Altesaam 45 flaminke sal by die Pretoria-dieretuin aanbly en kan nie vrygelaat word nie. Hulle is nie in ‘n toestand om vrygelaat te word nie.

Bolhuis sê hy het ’n vergadering gereël vir Woensdag, waar die toekoms van die “+/- 150 flaminke” wat nog aangehou word, aangespreek sal word. “Ons sal die kommer, voorstelle en vrae hier bespreek.”

  • FiND iT het intussen ‘n PAIA aansoek gebring dat Saam Staan Kimberley sy bankstate, waar geld vir die flaminke ingesamel is, aan die publiek bekendmaak.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: