Boer verloor 30 varke binne drie dae

CAMPBELL – Afrika-varkgriep is onder varke in die Campbell-gebied, in die Noord-Kaap, aangeteken, sê die Noord-Kaapse departement van landbou.

Zandisile Luphahla, woordvoerder vir landhervorming, landbou en natuurbewaring, sê die varkgriep is ’n hoogs aansteeklike virussiekte by varke wat gekenmerk word deur hoë sterftes. 

Die siekte kan deur tampans van vlakvarke na huishoudelike diere oorgedra word. Die siekte kan ook oorgedra word deur besmette vullis wat aan varke gevoer word.

Tot dusver is die Noord-Kaap in die varkgriepvrye-sone, sê Luphahla.

Siekte kan nie mense beïnvloed nie  

Die siekte is nie ‘n soönose nie, wat beteken dat dit nie mense kan beïnvloed nie. Die jongste uitbraak van die siekte in Campbell is die vyfde voorval sedert dit die eerste keer in Februarie 2017 in die Noord-Kaap uitgebreek het.

Die vorige uitbrake van die siekte het in Februarie 2017 op Pniël plaasgevind, op Alfa in Mei 2017, in Gong Gong in Julie 2017 en op Springbok in Mei 2018. Al die uitbrake is op 10 Desember 2018 deur die nasionale departement van landbou, bosbou en visserye gesluit.

Boer verloor 30 varke binne drie dae

Nomandla Bloem, LUR van die departement, sê in die onlangse uitbraak wat by ‘n varkboerdery op Campbell gesien is, het ’n boer binne drie dae 30 van sy varke verloor. Dit nadat hy die vorige dag gesien het dat van die varke siek was, sê Bloem.

Die patologieverslag van die twee varke wat aan ’n privaat veearts gestuur is, het op die teenwoordigheid van Afrika-varkgriep op die plaas gedui.

Bloem sê dit is vrylopende varke wat in vier verskillende kampe van ongeveer 250 ha elk grootgemaak word. Hulle word saam met wild, vee en bokke aangehou.

Die varke is in kontak met vlakvarke in die wildkampe. Dié varke is van verskillende ouderdomme en is van ‘n gemengde ras met oorheersende raslyne.

Die oorsprong van die diere is onbekend, maar hulle kom binne en buite die provinsie voor. Sommiges is by slaghuise buite die provinsie geslag.

Plaas onder kwarantyn geplaas

Die LUR sê die plaas is onder kwarantyn geplaas en siektebeheermaatreëls word vir die uitbraak toegepas.

“Die varke en varkprodukte, sowel as ander wilde varke en hul produkte, mag nie van die plaas verwyder word nie. Serologiese toesig word beplan vir implementering in die provinsie,” sê sy.

LUR Bloem het ‘n beroep op varkeienaars gedoen om nou saam met die departement te werk en om enige skielike siekte en sterftes van hul varke by die plaaslike staatsveearts aan te meld.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: