Besigheidsman help roekelose bestuurder vang

KIMBERLEY – Rudolph Steyn, ’n 36-jarige besigheidsman van Kimberley, het vanmiddag gehelp om ’n motoris wat vir verkeersbeamptes weggejaag het te vang.

Steyn sê hy was by die stopstraat by die Rhodesdene Pick & Pay, op die hoek van Cronin en Cartersweg, toe hy die bestuurder sien wat deur verkeersbeamptes in ’n bus en in ’n Audi agternagesit word.

Die verdagte het in die systraat by Cartersweg ingedraai en die verkeersbeamptes het in Swansweg afgedraai. Steyn sê hy het in Cartersweg afgery en die verdagte by die vierrigtingstopstraat by Queensweg, in Hillcrest, voorgekeer.

Owerhede het op die toneel opgedaag, maar die verdagte het geweier om uit te klim.

Steyn sê die bestuurder het iemand gebel. ’n Man in siviele drag het op die toneel opgedaag wat glo die bestuurder se prokureur is. Die bestuurder het waarskynlik regshulp ontvang, vermoed Steyn. 

Die prokureur het aan polisiebeamptes gesê dat sy klient ’n probleem met boeie het. 

Die motoris het na dié gesprek sy motor se deur oopgesluit en ’n lid van die blitspatrollie het hom in hegtenis geneem.

Jaagtog vanaf Barklystraat tot in Hillcrest

Die verdagte, wat na bewering ’n staatsamptenaar is, het glo verkeersbeamptes in Barklystraat probeer ontduik. Dit het gevolg nadat die beamptes die bestuurder met ’n lasbrief vir ’n uitstaande boete wou arresteer. 

Kapt. Tessa Jansen, woordvoerder vir die Kimberley-polisie, sê daar is geen kriminele klag by die polisie ingedien nie en daarom het hulle geen inligting in verband met die verkeersoortreding beskikbaar nie.

Chris Langford, hoof van die Kimberley-verkeersdepartement, sê die bestuurder is vir roekelose en nalatige bestuur in hegtenis geneem. Hy is in aanhouding en gaan môre in die Kimberley-landdroshof verskyn.

Sello Matsie, woorvoerder vir die Sol Plaatje-munisipaliteit, sê die bedrag van die uitstaande lasbrief kon nie vasgestel word nie en die voorval word ondersoek. 

Steyn eers lyfwag

Steyn is nie net ’n eienaar van ’n ingenieurswerkswinkel nie, hy is ook is in die konstruksiebedryf. Steyn sê in sy vorige beroep was hy ’n lyfwag. Hy het onder andere as lyfwag vir die Guptas, asook wyle Mokhele Mojaki, die voormalige munisipale bestuurder van Mafikeng, opgetree.

In die oomblik opgetree

Steyn sê hy is in wapens en selfverdediging opgelei. Dit is met hierdie opleiding om waaksaam te wees waarmee hy reageer het toe hy die verkeersbeamptes bystand gebied het. 

Steyn prys beamptes

Steyn voel die polisie het geen mag hier gehad nie. Hy sê hy haal sy hoed af vir die beamptes wat in die omstandighede hulle werk moes verrig. Hy het die beamptes vir hulle uitmuntende dienslewering bedank.

Steyn sê die bestuurder het die reg geminag. “Dit is ’n skande,” aldus Steyn.

Hy sê dit is belaglik dat owerhede regsadvies moet kry om hulle werk te doen. Dit terwyl die toneel ’n potensiaal vir gevaar inhou. Selfs onder daardie omstandighede kon beamptes hulle werk doen, sê hy.

Beskerm jouself

Steyn glo elke lid van die publiek moet opgelei word om hulself te beskerm. Hy bied vuurwapenopleiding en selfverdedigingsklasse aan. Indien jy belangstel, besoek sy Facebook-blad, Gun Pro SA, of jy kan hom by 072 255 7020 skakel.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: