Man vir grumoord van polisievrou skuldig bevind

KIMBERLEY. – Clayton Monroe Lee (41) is gister in die Hooggeregshof in Kimberley vir moord en drie klagtes van aanranding skuldig bevind.

Lee is vir die moord op Mitashja Estelle Lee, sy vrou, ’n polisiebeampte, asook die aanranding van Monique Lee (20), sy dogter, en Avery Lee (1), sy kleindogter, skuldig bevind.

Regter Bulelwa Pakati het die beskuldigde op die aanklag van moord en twee van die drie aanklagtes vir aanranding skuldig bevind. Die vierde aanklag waarop Lee aangekla word vir die beweerde aanranding van Johannes Vaarland, ’n buurman, is weens teenstrydige getuienis laat vaar.

“Ek het gedoen wat ek wou,” sê moordenaar

Luidens getuienis het ’n motoris op 20 Augustus 2016 in Roodepan gery toe hy op Lee afgekom het wat sy vrou, wat in daardie stadium met hulle kleindogter in haar arms gestaan het, herhaaldelik met ’n mes in haar kop gesteek het. Sy en die baba het op die grond geval. Die motoris het Lee met sy voertuig gekeer, maar Lee het die mes opgetel en sy vrou herhaaldelik regoor haar liggaam begin steek.

Vaarland het op dié stadium gille gehoor en gaan ondersoek instel. Hy het Lee op sy vrou se liggaam gekry. ‘n Stoeiery het gevolg.

“Ek het gedoen wat ek wou doen. Ek gaan nie weghardloop nie,” het Lee ná die moord gesê. Die polisie is ontbied.

Luidens mediese getuienis het die oorledene talle steekwonde aan haar kop en liggaam opgedoen.

Avery het twee ernstige snywonde op die regterwang en oor die bors gehad.

Lee word binnekort in die Hooggeregshof gevonnis.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

%d bloggers like this: